Elke dag ontvang ons God se genade en leef daaruit.
God se genade is soos oorvloedige reën op ons!
Maar so maklik aanvaar ons dit as vanselfsprekend,
en later selfs as ‘n rég.
As God sê dat Hy lief is vir my, behoort Hy my te seën.
Mense sal dit nie altyd so direk sê nie, maar laat daar
nou net iets gebeur wat hulle deur moeilike tye neem,
dan hoor jy: Waar is God nou? Hoekom laat God dit toe?
Hoekom luister God nie? En nog vrae op vrae.
Want God “behoort” dit nie te doen of toe te laat nie.
God behoort te seën.
Baie mense werk vir werkgewers wat ‘n bonus beloof
as hulle as werknemers bereid is om ekstra in te sit.
Gou-gou word hierdie bonus deur werknemers as
‘n reg beskou, al doen hulle minder en minder.
Hulle dink hulle is nou geregtig op die bonus...ongeag.
En jy moet nie die bonus terughou nie,
want dit “behoort” aan hulle. Hulle “verdien” dit,
al doen hulle minder en minder...
Dit wil dikwels voorkom of mense ook so redeneer
oor genade en seëninge van God.
In plaas daarvan om uit dankbaarheid teenoor
die Here te leef vir al ons seëninge, begin ons Hom
bevraagteken as ons nie geseën word soos óns dit
verwag nie, en gaan ons al klaend en aan-klaend
teenoor God deur die lewe.
Petrus kom maak ons weer daarvan bewus dat ons
gedrag en lewe vir die Here in lyn moet wees met
die genade-bonus en seën-bonus wat ons van God
ontvang, sonder om enige iets daarvan te verdien.
Sonder dat dit ons toekom!
Daarom sê 2 Petrus 1:10-11: “My broers en susters,
wys deur alles wat julle doen dat God julle na Hom
toe geroep het. Wys dat God julle uitgekies het om
in Hom te glo. Doen dit, dan sal julle nooit oor die
sonde struikel nie. Dan sal julle met oop arms soos
helde ontvang word in God se nuwe wêreld.
Daar regeer ons Here en Verlosser, Jesus Christus,
vir altyd as Koning.”
Let op die woord “wys”. Dit is die belangrike woord.
“...wys deur alles wat julle doen dat...”
“Wys dat God...”
Wys dit met jou hele lewe. Wys met jou hele
menswees dat God jou beloning kom aanbied het.
Wys vir die mense dat jy dit nie as ‘n reg sien nie,
maar as God se genade en seën. Wys jou dade van
dankbaarheid en ywer vir die Here.
Let op die verdere hemelse bonus:
“Dan sal julle met oop arms soos helde ontvang
word in God se nuwe wêreld.”
Waarheen wys my lewe regtig?
Na God se onverdiende genade en seën?
Na jou dankbaarheid daarvoor?
Of wys dit dat ek dink dit is my reg?
Mag my lewe “wys” dat die Here leef,
en ek saam met Hom!
In sy liefde, genade en seëninge!
Ernest