Petrus het gebrand om die Here se Naam oral uit te dra.
Hy was soos ‘n vuur wat nie geblus kon word nie.
Hierdie man, wat by ‘n geleentheid die Here Jesus verloën het,
kon net nie ophou om oor die Here te praat toe hy met die
Heilige Gees vervul is nie. Hy was nou gehoorsaam aan die
Heilige Gees en met die stukrag van die Heilige Gees getuig
en leef hy. Hy praat met almal met wie hy in aanraking kom
oor die Evangelie.
Kyk wat sê hy in 2 Petrus 1:12:
“Al weet julle alles wat ek vir julle gesê het,
moet ek julle altyd weer van voor af daaraan herinner.
Ook al staan julle vas in die Here se waarheid,
moet ek nog ‘n slag vir julle sê hoe om tot eer van die
Here te leef.” Petrus kan nie ophou praat daaroor nie.
Dit is asof hy sê: “Kom ek herinner julle weer en weer aan
wat die Here Jesus vir ons gedoen het!
Ek kan nie anders nie!” Dan kom sê hy verder in vers 13:
“Dis my roeping om julle aan te moedig deur julle te
herinner hoe om te leef so lank as wat ek nog hier is.”
Petrus weet nie net wat verseker sy roeping is nie,
maar hy weet ook hoe om dit uit te leef.
Met passie en oorgawe. By elke moontlike geleentheid.
Merkwaardig dat Petrus sê: “...so lank as wat ek nog hier is.”
Hy koop die tyd uit, want hy weet nie hoe lank hy nog
hier is nie. Ons wil eintlik dink; hoe korter jou tyd is,
hoe meer met oorgawe! Want die tyd loop uit.
Maar begin nou reeds so leef. Wat verby is kan ons nie
inhaal nie! Daar is nog so baie om te doen in die Here
se koninkryk in joú lewe! Hoe kan jy jou roeping nog meer
met oorgawe uitleef?! Hoe kan jy ‘n nog groter impak op
die mense rondom jou hê om die Here met oorgawe te dien?
Petrus sê jy moet nie gaan terugsit en dink die mense om jou
weet wat om te doen en sal dit doen nie. Jy moet hulle bly
aanmoedig tot lewe in oorgawe vir die Here! Vers 12:
“Al weet julle alles wat ek vir julle gesê het, moet ek julle
altyd weer van voor af daaraan herinner...”
Vandag nog praat Petrus met ons, en bly ons herinner.
Elke keer as ons sy woorde lees wat hy onder leiding en
gehoorsaamheid aan die Heilige Gees geskryf het,
moedig die Gees ons weer aan!
Kyk wat sê Petrus in vers 14-15: “Ongelukkig sal dit nie meer
te lank wees nie, want my dood is voor die deur.
Ons Here Jesus Christus het dit duidelik vir my gewys.
Daarom skryf ek al hierdie dinge neer sodat julle selfs ná
my dood kan onthou hoe julle moet leef.”
Moenie terugsit nie.
Nie eers as jy besef jou tyd is “verby” nie.
Moet nooit ooit terugsit nie.
Staan en gaan, of sit op die punt van jou stoel en getuig!
Moenie dat jou roeping op die rusbank lê en TV kyk nie...
Ernest