Mense het al dikwels gevra of die Bybel regtig waar is.
Gelowiges het al twyfel tye beleef en dieselfde gevra.
Is dit nie maar ‘n dik boek saamgevoeg oor eeue nie?
Mense het allerhande vrae oor die Bybel.

Waar kry ons nog ‘n boek wat oor eeue en eeue
dieselfde boodskap met soveel krag verkondig?
Waar kry jy nog ‘n boek met ‘n boodskap wat elke dag
duisende en duisende mense se lewens so verander?
Waar is nog ‘n boek met die impak van die Woord
van God oor eeue?

Net om dit as’t ware ook vir die vrae in sy tyd en die
vrae van vandag te bevestig, kom skryf Petrus in die
Woord van God hierdie woorde in 2 Petrus 1:20-21:
“Onthou, dit wat die profete in die Bybel sê,
het hulle nie self uitgedink nie, want geen ware
profesie kom ooit van mense af nie. Nee,
die Heilige Gees het presies vir hulle gewys wat hulle
oor God moes sê. Hy het hulle aangevuur om oor Hom
te praat.”

Wanneer ons twyfel, moet ons weer hierdie verse lees.
Onderstreep dit in jou Bybel. Ons besef nie met wat
‘n wonderlike God ons te doen het en Wie ons aanbid nie.
Ons besef nie die grootheid van die wonderwerk wat ons
vashou elke keer as ons uit die Bybel lees nie.

Dink net aan jou selfoon. Amper elkeen het een.
Selfs klein kindertjies. Tog het ons nie meer ‘n idee van die
tegnologie wat agter dit sit om jou selfoon te laat werk nie.
Koordloos bel jy deur satelliete en ry jou woorde op seine
deur die hemelruim. En ons gesels lekker sonder om
daaraan te dink.

Net so is dit met die Woord van God.
Ons lees dit sonder om te onthou of te besef van waar af
dit kom, met watter Goddelike krag die Heilige Gees deur
die Woord van God werk.
Ons is eintlik “te gewoond” aan die Bybel! Ons vergeet
selfs dat die Heilige Gees in ons woon en die Woord aan ons
verduidelik, en dat God self met ons praat!
Hy maak die deur oop dat ons Hom kan ontmoet en leer ken.
In die Bybel openbaar God Hom aan ons sodat ons weet Wie
ons aanbid. Dit is lewensbelangrik dat ons God moet leer ken.
Ons kan Hom leer ken deur die Woord. Ons kan nie groei in
ons verhouding met God as ons nie die Bybel lees en leef nie.
Doen dit weer met oorgawe.
Geniet dit om God en jouself in God se Woord te vind!

Ernest