Genade is hemel op aarde!
Die Amerikaanse teoloog-skrywer, David Seamands,
het gesê die twee grootste oorsake van emosionele
probleme by Christene, is dat hulle nie die onverdienstelike,
onvoorwaardelike genade en vergifnis van God verstaan
en aanvaar nie, en daarom in die tweede plek ook nie leef
met onvoorwaardelike liefde, vergifnis en genade teenoor
ander mense nie. Dit veroorsaak die grootste emosionele
probleme by Christen-mense! Hierdie twee grondbeginsels!

Ons dink ons verstaan die teologie van genade, maar ons
leef dit nie uit nie. Hoe héél sou ons nie wees en leef as ons
die goeie nuus van God se genade werklik sou laat wortel
skiet en groei in ons lewe en ons emosies nie.

Sommige mense misbruik selfs God se genade om losbandig
te lewe. God se genade sal dit mos oordek. Ander maak net
so ‘n groot fout om te dink kerkbywoning, stiltetyd, tiendes,
gebed en getuienis sal hulle meer aanvaarbaar vir God maak,
en sy genade “verdien”. Dan mis ons heeltemal die betekenis
van God se genade.

Wanneer ons besef dat ons aan sonde skuldig is,
is dit alreeds moeilik om te verstaan dat ons in elk
geval God se guns geniet – of ons dit verdien of nie!
Hoe kan ons – wie se beste dade met gemengde
motiewe en onvolmaaktheid besmet is – ooit heilig
wees in God se oë? Romeine 3:10-12 sê tog:
“Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat
regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat
verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van
God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard.
Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.”
Slegs op grond van ons eenheid met Christus kan ons
heilig wees. Dit is genade! God se genade vir jou!

Wanneer die Vader nou na ons kyk, sien hy nie swak
prestasies nie. Nee. Hy sien die perfekte optrede van
Jesus. En as gevolg van die perfekte heiligheid van Jesus,
sien Hy ons as heilig in Hom!
Hoe kan ons – wat so ‘n onbeskryflike groot geskenk
ontvang het – dan anders as om ook genade aan ander
te betoon?!

Ernest