God is die Bron en grootste Betoner van genade.
Romeine 3:23-24 som ons verlore toestand en God
se genadige verlossing so op:
“Almal het gesondig, en het nie deel aan die
heerlikheid van God nie, maar hulle word,
sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade
vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”

God se genade is volkome in Jesus Christus vir jou
geopenbaar. As jy genade wil verstaan moet jy
Jesus Christus in jou plek voor Pilatus sien staan –
gehoon, verniel, bloeiend, stukkend, bespuug, verneder.
En die Romein hoor sê: Ecce homo – “Aanskou die mens!”
Dan moet jy besef dat jy gelyktydig na God se geregtigheid,
maar ook na sy genade kyk. Geregtigheid – deurdat dit ek is
wat dit verdien om daar te staan en so gestraf te word,
maar ook genade – Jesus dra die straf wat my toekom.
So is God se genade, om met Hom versoen te word in Christus!

Genade is net vir “verkeerde” mense. Genade is moeilik om te
verstaan omdat dit so anders is as alles waaraan ons gewoond is.
Ons moet vir alles werk. Niks kom vanself nie. Ons moet alles
verdien. En dan bied God sy genade juis aan vir mense wat dit
nie verdien nie! Die “verkeerde” mense. Die sondaars!
Hulle wat op die bors slaan en in absolute afhanklikheid uitroep:
“Wees my, sondaar, genadig!” Ons beleef soveel skuld.
Daarom sukkel ons om dit te aanvaar. Ons voel so vuil en wil nie
iets omhels wat ons nie verdien nie. Maar juis so is God se
onvoorwaardelike liefde en genade. Dit stroom bruisend soos
‘n waterval oor jou!
Genade is God wat jou leer om vir Hom te lewe,
ongeag jou tekortkominge en foute.

Ernest