Genade is hoe God met ons óór begin, en vóór begin!
Genade het altyd net één Naam en adres: Jesus!
Hy is God se antwoord op duisternis, wanhoop en dood.
Jesus se kruis vee die ou paaie uit en plaas ons op die
nuwe weg!

Lees gerus die mees aangrypende gelykenis oor genade
wat Jesus met ons deel in Lukas 13:6-9.
Dit wys hoe genade ‘n seisoen is van uitstel, sodat ons
kinders van die Here kan word, en kan vrug dra,
met die oog op afstel. Genade-uitstel met die oog op
oordeel-afstel!

Tot voor hierdie gelykenis was dit deur die Bybel die
eienaar en sy onvrugbare wingerd. Nou, vir die eerste
keer in die Bybel verskyn hier ‘n Tuinier op die toneel!
Jesus! En Hy beding met die Eienaar ‘n seisoen van
afstel van vonnis. Die Tuinier gee nie net nog ‘n kans nie,
Hy máák nou self die kans!

In die gewone lewe is genade vir die meeste van ons
die gee van nog ‘n kans. As iemand drooggemaak het,
gee ons hom gewoonlik nog ‘n kans. Maar die onus lê op
hom om op grond van die kans te presteer. Hy moet dus
sy “genade” of tweede kans verdien.

Maar in Lukas 13 is dit totaal anders! Die Tuinier bied nie
net ‘n kans en kyk wat ons daarmee doen nie. Nee.
Hy máák die kans! Jesus plaas sy eie reputasie as Hemelse
Tuinier op die spel, deur vrugte te waarborg op grond van
sy bewerking. Wanneer die eienaar die onvrugbare boom
wil uitkap, antwoord die tuinier in vers 8:
“...Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond
rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende
jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.”
Die Tuinier, Jesus, loop die risiko volledig. Hy waag alles!

Genade is ‘n Goddelike werkwoord. Maar dit is ook ‘n
menslike rus-woord. Genade aan my kant, is om niks te doen
nie. Dit is net om in die wingerd te wees. Ek moet net weet
waar die wingerd is en daar in die teenwoordigheid van
die Here gaan wees en rus. Dit is genade. Hy doen alles. Alles!
Dít, is genade!

Ernest