Wanneer ons jonk is dink ons dat ons baie weet.
Ons dink ons het alle wysheid in pag.
Soos ons ouer word kom ons agter hoe min ons
weet en hoeveel wysheid ons nodig het.
Ons besef hoeveel keer ons die bal heeltemal
mis geslaan het. Ons besef ook hoeveel seer ons
agtergelaat het omdat ons dink ons weet beter.
Belangrik is dat ons nie op ons eie kan leer nie.
Ons het mekaar baie nodig. Medegelowiges moet
oop wees om na mekaar te luister, te oordink,
en aan te pas as die Gees ons so lei.
Daarom sê Kolossense 3:16 ook hierdie baie
belangrike waarheid: “...Leer mekaar wat reg en
verkeerd is”. Die 1983 Nuwe Vertaling stel dit so:
“Leer en onderrig mekaar met alle wysheid.”
Dit is baie belangrik om te ontdek hoeveel jy self
moet leer by ander! Ons dink so maklik ons weet beter.
Dit veroorsaak dat ons nie ‘n leerbare gees het nie.
Dit is soos met ‘n rugby wedstryd.
Wanneer jy in die binne-werke van die skrum is,
sien jy min wat in die agterspel gebeur. By die tyd wat
jy jou kop uit die skrum trek het daar al baie gebeur.
So kan die agterspelers ook nie presies sien wat in die
binne-skrum aangaan nie. Jy kan nie die hele spel met
jou blik raakvat nie. Maar die afrigter wat op die pawiljoen
sit sien die hele prentjie baie meer volledig.
Hy ken elke speler en analiseer die groter geheel.
Hy ken die wedstryd-plan, en sien selfs die opponente,
en hulle plan. Halftyd moet elke speler eintlik aan die afrigter
se lippe hang en hulle ore spits vir sy wysheid en raad.
By die afrigter leer ons al die foute wat in die eerste helfte
gemaak is. Ons leer hoe om in die tweede helfte aan te pas.
So werk dit ook in die wedstryd van die lewe. Die Here stuur
mense op ons pad met baie wysheid, soos ons ouers,
lewensmaats, mentors, afrigters van die lewe,
leraars wat lei uit die Woord, wyse mense wat baie lewens
ondervinding het. Ons sal doodgewoon dom wees om hulle
nie raak te sien, raak te hoor, en na hul wysheid te luister,
en dit te gaan leef nie. Gee hulle ruimte en omhels die
wysheid wat van hulle kom. Dit is hoe die Here deur die
eeue werk. Deur mense wat Hy seën met wysheid,
om weer wysheid van die Here te deel met ander.
Kom ons leer doelbewus bymekaar sonder om eiewys te wees.
Gee ruimte en tyd vir mekaar en jy sal verbaas wees oor
die wysheid wat daaruit opstaan. Hou jou oë en ore oop vir
die “afrigters” wat die Here in jou lewens-wedstryd gee.
“Leer en onderrig mekaar met alle wysheid.” – Kolossense 3:16.
Ernest