Ons sê maklik elke mens moet sy eie besluite
neem en daarvoor verantwoordelikheid neem.
Kolossense 3:16 sê egter:
“...Leer mekaar wat reg en verkeerd is.
As iemand ‘n fout maak, help hom reg.”
Ons moet regtig mekaar help met wat reg en verkeerd is.
Ons dink dikwels dat ons self soveel foute het dat ons nie
iemand anders kan help nie. Wie is ek nou om vir ander
te sê wat reg en verkeerd is?
Maar juis ons wat self sukkel is dikwels die beste
toegerus om ander te help. Ons weet waar die swak
plekke in ons mondering is. Ons weet waar dit die
maklikste is om die pad byster te raak.
Ons weet want ons het self die foute gemaak.
Ons sien weer die rooi vlaggies opgaan.
Daarom kan ons iemand betyds waarsku,
want ons “weet wat kom”.
Twee ouerige persone wat toeriste is,
het in ‘n modderige rivier vasgeval.
‘n Visserman het hom na hulle gehaas om hulle uit te help.
Na ‘n groot gesukkel het hy gesien hy is nie sterk genoeg nie.
Hy het eenvoudig in die modder gaan lê sodat hulle hom
soos ‘n tou kon gebruik om hulself uit te trek,
en dan oor hom te loop soos ‘n groot klip in die modder.
Die wonderlikste van alles is dat die visserman nie na die
hele episode gewag het om vergoed te word nie,
of om erkenning te kry nie, maar dat hy net weer terug
gekeer het na sy bootjie om aan te gaan met sy visvang.
Hy het eenvoudig mense gehelp wat in die moeilikheid is.
Paulus wil ons hier leer dat ons mekaar uit die modder
van die lewe moet help. Meer nog, dat ons mekaar moet
help om nie in die modder te beland nie.
Ons wys nie net vir mekaar waar iets verkeerd is nie,
maar help ook mekaar wanneer ons in die modder beland.
En dit kan ook beteken dat ons onsself blootstel aan
modder en gevaar soos wat die visserman gedoen het.
Dink na oor mense wat nodig het om deur jou reggehelp
te word. Wat moet jy daaromtrent gaan doen?
Hoe kan jy hom of haar gaan help? Gaan doen dit.
Moenie dink jy is onbekwaam nie. Die Here sal jou help.
Hy vra dit van jou.
Ernest