Habakuk 3:17-19 het een van die mees gewilde
liedere in die kerk geword. En ook een van die
mees gewilde Skrifgedeeltes by baie mense.
Vers 17-18 sê: “Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes
lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe
meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,...”

Ons kan dit maklik sing sonder om die intensiteit
daarvan te besef. Kyk bietjie mooi wat sing ons.
Ons sing van alles verloor of as alles rondom ons
ineenstort. En ons sien dikwels wat mense begin
doen as dit met hulle gebeur. Party vlug.
Ander emigreer. Ander gaan skuil in ivoortorings.
En baie mense hou op glo en vra waar is God noú?
Hulle stoei dan met almal rondom hulle,
beskuldig God van afwesigheid, en murmureer
word hulle lewe. Dit is een ding om Habakuk 3:17-19 te
sing. Dit is ‘n ander ding om dit regtig te glo en te leef.
Dit is belangrik om te weet in watter omstandighede
Habakuk hier skryf.

In Habakuk se tyd is die een magtige wêreldryk gereeld
deur die ander vervang. Met die verkrummeling van die
Assiriese Ryk, het die nuwe Babiloniese wêreldryk verskyn,
die Galdeërs. Habakuk 1:5-11 praat daaroor.
Dit was die sewende en sesde eeu voor Christus.
Habakuk se optrede vind plaas kort voor een van die
Babiloniese aanvalle teen Jerusalem. Dit was in 597 v. C.
en weer in 586 v. C. Ander profete wat ook in hierdie tyd
optree is Sefanja, Jeremia en Nahum.
Die belangrike is nou dat dit die mees háglike omstandighede
was! Vernietiging van alles. Oorlog. Dood. En in dit alles hou
Habakuk krampagtig aan die Here vas.

Hy is nie blind vir die realiteite van sy omstandighede nie.
Hy sê juis hy sal aanhou jubel ten spyte van sy omstandighede.
Habakuk dien die Here ten spyte van, en nie as gevolg van nie!
In ons tyd sien ons dat baie mense die Here dien omdat Hy
hulle seën, omdat dit goed gaan met hulle.
En die oomblik as die wiele afkom, dan is dit die Here se skuld.
Ware geloof gaan verder as die goedgaan tye.
Mense soos Habakuk dien die Here selfs al is daar op die oog af
niks uiterlik wat dit aanmoedig nie. Hulle omstandighede
bepaal nie hulle geloof nie. Verstaan jy dit?
Dien jy ook regtig die Here ten spyte van?
Al gaan dit regtig haglik in jou lewe?
Of wil jy eers met geloof reageer as die Here vir jou “presteer”?

Ernest