Habakuk 3:18: “Nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.”
Lofliedere in die kerk word nie sommer lewensmusiek
in die meeste gelowiges se lewe nie. Dit is een ding om
te sing jy sal in die Here jubel, maar iets anders om dit
regtig in jou lewe te doen. Ons weet die lewe is soms
regtig moeilik en realiteite verander dikwels baie vinnig.
Vandag goed. Môre sleg. Dit is nie altyd maklik om die
lewe met die loflied van Habakuk te omraam nie.
Dit vra regtig geestelike dapperheid om te sing wat
Habakuk sing. Dit is eenvoudig net makliker om saam
met al die lang gesigte te loop en murmureer,
en God te blameer vir alles wat verkeerd loop. Dit is
makliker om ander mense te verwyt, en in
selfbejammering rond te sit, as om ten spyte van
wanhoop en aanvegtinge te bly glo en te bly jubel.
Gallup Internasionaal het in Augustus 2012
aangetoon dat daar in die tydperk sedert 2005 ‘n
19%-afname was in persone wat hulleself as
godsdienstig beskou. Godsdienstigheid het in daardie
tyd in Suid Afrika gekrimp vanaf 83% na 64%.
Moeiliker lewens-omstandighede en verandering in
hoe kerke bedien, het veroorsaak dat baie
rusbank-Christene wat voorheen net teruggesit het
om bedien te word, hulle rusbank-geloof prysgegee het.
Natuurlik is dit ook ‘n goeie proses van uit-kristalisering
na die ware kerk.
Om God te loof ten spyte van ons omstandighede,
is die groot uitdaging vir ons geloof.
Wanneer gebeur dit? Hoe kry ons dit reg?
Dit begin gebeur wanneer ons regtig glo dat God genoeg is,
en dat die Here alles is, en dat ons niks meer as sy
teenwoordigheid in ons eie lewe begeer nie.
Dan raak ons vry van ons oneindige lys van behoeftes
waaraan God moet voldoen om ons gelukkig te hou.
Ons moet regtig in alle omstandighede doelbewus afhanklik
van die Here leef. Ons moet nie ons omstandighede soos
‘n liniaal gebruik om God se afstand van ons af te meet nie.
Dan sal “ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder.”
Ernest