Habakuk 3:19: “Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
Jy benodig die regte toerusting as jy gaan bergklim.
Toue, skoene, klere, tente, handvatsels...
Jy gaan klim nie sommer teen rotse uit nie.
Dit is so anders met die berg-diere wat die Here
geskep het en aangepas het. Die bergbokke,
of ribbokke soos Habakuk hulle noem,
is ontwerp om gemaklik op hoë plekke te loop.
Hoë en gevaarlike terrein is nie vir hulle ‘n
probleem nie. Habakuk het dit raakgesien
en gebruik nou hierdie beeld om aan te dui hoe
die Here ons lei in ons lewe saam met Hom.
Die Here gee vir sy profeet en vir ons as’t ware
ribbok voete terwyl ons saam met hom klim!
Terwyl ons, soos Habakuk, die gevaarlike en
moeilike bergspitse van die lewe aandurf,
is God besig om ons tree vir tree sterk te maak
en op ons voete te hou.
Wanneer nóg ‘n oes misluk, en Habakuk weereens
kies om nie sy geloof in daardie omstandighede
te laat vaar nie, laat God hom nog hoër opklim
teen die berg van die lewe. Al hoe nader aan God
se doel met sy lewe. So werk die Here met ons.
Dag na dag en van die een moeilike uitdaging na
die ander, kry ons saam met Habakuk dit reg om
in gevaarlike en moeilike omstandighede te oorleef,
saam met die Here!
Hoekom kry baie gelowiges nie die Habakuk roete
geklim nie?
Hulle dink terwyl hulle onder in die basiskamp rondsit,
sal God vir hulle die regte geloof-toerusting gee,
voordat hulle die hoë berge sal aandurf.
Maar hulle kom nooit uit die basiskamp nie.
Hulle waag dit nie in geloof saam met die Here in die
berge in nie.
God werk andersom: Hy vra dat jy Hom onvoorwaardelik
vertrou en saam met Hom sal gaan. Dan sal Hy vir jou
alles gee wat jy nodig het terwyl jy saam met Hom klim.
Te midde van jou geestelike waagmoed saam met Hom,
ontdek jy hoe jou voete word soos die van ‘n ribbok wat
hoog klim! “Hy maak my voete soos die van ‘n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
Waagmoedige geloof groei in die praktyk van die lewe,
daar waar ons saam met die Here oor berge gaan.
Dit groei nie terwyl jy in die basiskamp sit en met
kerklike teorie besig is nie.
Waag saam met God.
Op hoë plekke laat Hy jou veilig loop!
Ernest