Habakuk 3:17-19 is werklik ‘n aangrypende woord.
Lees dit weer. Hierdie woorde bevat soveel kante
en diep geestelike waarhede dat ons dit weer
‘n keer moet oordink. Ons sien hierin dat jy nie
eenvoudig geloof “het” nie. Geloof gebeur in ‘n
verhouding saam met die Here. Hy gee dit!
Met ander woorde: Terwyl ons in die stryd van
die lewe kies om die Here te vertrou, word ons
vertroue in Hom nog verder gevorm en dieper
in ons lewe ingebou deur die Here self!
Weereens: geloof is nie iets wat ons hét nie.
God gee dit. Dit is ‘n verhouding met God wat
in die vuur van beproewing en moeilike
omstandighede elke keer weer nuwe gestaltes
aanneem en sterker bly groei.

Solank as wat ons veilig in die basiskamp wil
rondsit en nie in waagmoed saam met die Here
die berge van die lewe aandurf nie, gaan ons
geloof nêrens heen nie. Daar in die berge van die
lewe, te midde van die toetse van die lewe,
die gevegte, teenstand, donkertes en moeilikhede,
hou ons stywer en stywer aan die Here se hand vas.
En ons verwag in afhanklikheid alles van Hom!
Ons klim hoër en hoër in geloof, saam met die Here.
Hy is ons Leier en ons Gids.
Ons vertrou Hom met die berg.
“Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my
voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy
my veilig loop.” – Habakuk 3:19.

Wanneer ons aan die Here vashou, kom ons agter dat
ware veiligheid ook op die onveilige plekke te vind is.
Die Here se soort veiligheid werk anders as ons
verstaan daarvan. Ons idee van veiligheid is om die
onveilige plekke so ver as moontlik te vermy.
God skep veiligheid waar jy saam met Hom beweeg.
En God steek alle grense oor na alle mense. Nêrens is ons
veiliger nie, as wanneer ons agter die Here aanklim,
teen berg uit. As jy daar is waar die Here jou wil hê,
is jy op jou veiligste. Nie in die basiskamp waar jy sit en
wag om eendag te klim nie, en eintlik nooit te klim nie...
Steek grense oor saam met die Here.
Doen dit met waagmoed!

Ernest