Ongelukkig werk sommige gelowiges se geloof
soos ‘n noodwiel. ‘n Noodwiel se funksie is om
in tyd van nood uit te help. Vir die res van die tyd
vergeet ons eintlik van die noodwiel. Eers as een
van ons voertuig se wiele pap is, onthou ons die
noodwiel. Dan hoop ons ook nog die druk in die
noodwiel is hoog genoeg om dit te kan gebruik.

Kan ons so met ons geloof werk? Ons wil dikwels
goed op ons eie klaarkom totdat die nood intree.
Wanneer daar ‘n krisis in ons lewe opdaag, dan wil
ons die Here dringend inroep om soos ‘n noodwiel
uitkoms te gee. Wanneer die krisis verby is,
dan gaan ons weer op ons eie voort. Dan is ons
weer op ons eie wiele...voete. kan ons so glo? Nee.

Die Here weier om so misbruik te word.
Die Here weier ook om net ‘n adviserende rol in ons
lewe te speel. Hy weier ook om net reg te staan om
tydelike dinge aan ons uit te deel net wanneer ons dit
wil hê, soos dit ons pas.
Wanneer die skare in Johannes 6 tekens en brood
van die Here vra, roep die Here hulle op om hulle
prioriteite reg te kry. Hy beklemtoon dat die verhouding
met God nie net gaan oor tydelike dinge nie.
Johannes 6:27: “Julle moet nie werk vir die voedsel wat
vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat
ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee,
want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

Dit help nie om in hierdie lewe te werk en te leef net vir
gewone brood nie. Ons moet kies vir ewige brood wat
die Seun van die mens vir ons gee.
Gewone brood is belangrik, ja, daarsonder kan ons tog nie
leef nie. Daarom sê die Here ook dat Hy elke dag se brood
sal voorsien, en dat ons daarvoor moet bid, soos in die
Ons Vader gebed. Die groot uitdaging is om verby die
daaglikse brood die ewige brood te sien. Om te kyk na
Jesus wat die ewige brood is. Ons moet in Hom glo,
sê Johannes 6:29: “Wat God van julle verlang,
is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

Glo deurgaans en leef deurgaans saam met die Here.
Moenie Hom as “noodwiel” soek as jy in die nood is nie.
Hy is jou lewe! Hy gee dit nie net nie. Hy ís dit!

Ernest