Ons leef hier en nou. Ons leef nie meer in die verlede nie.
Ons het herinneringe van die verlede, maar leef nou!
Die Here gee slegs vandag se tyd en geleentheid aan ons
om voluit te leef. Of ons môre nog hier gaan wees,
is ‘n ope vraag. Ons weet glad nie. Ons weet nie!

Besef dit, en dat ons verseker vandag het om keuses uit
te oefen en in die rigting te leef waar die Here ons wil hê.
Ons het groot en klein keuses. Maar elke groot en klein
keuse vir die Here, dwing ons lewe stukkie vir stukkie op
nuwe bane op die Here se pad.

Dit gaan regtig oor hoe ons kies om elke dag met hoop
en liefde vir die Here, en voor ander mense te lewe.
Watter soort brood eet jy vandag? Hemelse Brood,
of tydelike brood? Jesus het self gesê Hy is die Brood
wat lewe gee. Wanneer jy hemelse Brood eet,
maak dit gister, vandag en môre meteens anders!
Dit verander die hele lewe! Eksodus 16 vertel hoe Moses
se brood, die manna, in een dag se tyd sleg geword het.
Jesus alleen is ware Brood. Eet sy brood en word vir altyd
versadig. Jesus se uitnodiging is glashelder:
“Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie,
en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”
Jesus is nie die noodwiel nie.
Jesus is ook nie die tydelike brood nie,
maar die ewige Brood wat lewe gee!

Ernest