Mense sê dikwels snaakse dinge oor God se wil.
Mense dink en praat maklik los van Jesus oor God se wil.
Maar, Jesus is die enigste Naam en Adres van God se wil!
Sonder Jesus is geen Bybelse gesprek oor God se wil
regtig moontlik nie.
Een van die belangrikste uitsprake in die Bybel oor God
se wil kry ons in Johannes 6:38-40.
Vers 39 sê: “Dit is die wil van Hom wat My gestuur het:
dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore
sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit
die dood sal laat opstaan.”
Die skare in Kapernaum wil Jesus verskraal tot iemand
wat maar net vir hulle kos op aanvraag moet gee.
Húlle behoeftes en begeertes staan sentraal, en eintlik
moet die Here húlle nou daarin dien...
En dan dui Jesus aan dat Hy self die ware Brood
uit die hemel is! Dan verbind Hy sy eie werk direk aan
God se wil. Let op, vers 39 begin met die woorde:
“Dit is die wil van Hom wat My gestuur het...”
Onthou nou ook Jesus se woorde ten opsigte van
God se wil vir jou lewe:
Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.
God het een wil vir elke mens! Hierdie een wil is naamlik
dat niemand wat die Vader vir Jesus gegee het ooit
verlore sal gaan nie. In vers 39, en weer in vers 40,
bevestig Jesus God se wil vir die mens:
Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom gló,
die ewige lewe sal hê! God se wil is dat elke mens gered
sal word en tot kennis van die waarheid kom!
Probleem is, ons plaas onsself nou in die middelpunt,
omdat ons vir onsself so belangrik is, en dink dan dat God
‘n spesifieke wil vir elkeen afsonderlik het,
rondom ons eie behoeftes en begeertes,
oor die sewe biljoen, vir elke mens op aarde. God se wil is
dat ons in sy genade deur geloof gered word, en dan as sy
verteenwoordigers leef, saam met wie jy ookal lewe,
waar jy ookal is, in wat jy ookal doen!
Hoekom maak ons God se wil so ingewikkeld?
Omdat ons onsself in die middelpunt plaas,
as uitgangspunt vir sy wil. Dan verbind ons God se wil
uitsluitlik met ons eie lewe, en vra vrae soos:
“Wat is God se wil vir mý lewe?” Die vraag moet eerder wees:
“Hoe val ek met my lewe in by God se wil?” Sy een wil, om vir
mense deur Jesus die ewige lewe te gee.
Dit verander my hele lewe se fokus. Weg van myself,
na God en my medemens! Dan word persoonlike dinge
in my lewe, soos my huwelikskeuse, beroepskeuse,
en wáár ek wil leef, bepaal deur my betrokkenheid by
Jesus se sending in hierdie wêreld! Om ewige lewe uit te deel!
Alles wat ek doen word daardeur gefokus.
My huwelik, werk, kinders, blyplek...wat ookal,
is op God se sending in die wêreld gefokus, en nie op myself
in die middelpunt nie!
Dan gee jy jouself aan God as lewende en heilige offer.
Dit is sy wil vir jou lewe!
Die wesentlike van jou verhouding met Hom!
Dink nuut oor God se wil! “...laat God julle verander deur julle
denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil
van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
God staan altyd volledig in die middelpunt van sy wil vir jou lewe!
Ernest