Ons is dikwels so besig om oor God se wil te
redeneer, dat ons nie by die doén daarvan
uitkom nie! In hierdie opsig is Matteus 7:21
baie belangrik:
“Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here”,
sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie,
maar net hy wat die wil doen van my Vader
wat in die hemel is.”
Om God se wil te doen is om jouself te gee!
Nie om op jouself gefokus te wees nie.
Nie jou begeertes of behoeftes nie,
nie jý wat gedien moet word nie.
Nie “ek” of “ons”, wat eintlik mý “ons” is,
in die middelpunt nie.
Ek is nie die uitgangspunt vir God se wil nie. Hy is!
Dit gaan oor Hom! Sy Naam. Sy eer.
Sy sending in die wêreld.
Dit verander my fokus weg van myself,
na God en my medemens.
Dan gee jy jouself, en jy doen God se wil!
God se wil word gedoen!
Jy word deel van Jesus se aardse taakmag wat
God se wil doén.
Soos die Vader Hom gestuur het, stuur Hy ons.
En ons deel kos uit, en water, en klere, ons versorg,
en gee om.
God se wil is nie godsdienstige teorie waaroor ons
dikwels moet tob en stry nie. God se wil word gedoen!
Daagliks uitgeleef. En Jesus word die inhoud van my doén,
in alles en met almal!
Ons dra laste, deel vreugde, bid saam en vir ander,
eet saam, dien almal, luister na almal,
leef saam met almal,
sodat Jesus se reddende genade deur ons kan vloei.
So gebeur God se wil dag vir dag, mens vir mens.
God se wil word gedoen!
Ernest