Ja, jy het reg gelees.
Regte groei in die Bybel is soms kleiner.
Dit is hoe Jesus sy groep dissipels laat groei het.
Vanaf duisende tot slegs 12 in een dag!
Inderdaad is die regte soort groei dikwels ook
kleiner.
In Jesus se geval is dit van meer as 5000 mense,
na net 12. En eintlik onderweg na 11,
omdat een van hulle Hom sou verraai.
Getalle maak nie regtig vir Jesus saak nie.
Jesus is nie ‘n skare-trekker nie.
Hy meet nie sukses aan die hoeveelheid mense
rondom Hom nie. Hy meet ook nie die sukses van
sy preke aan hoeveel mense daarna kom luister nie.
Ongelukkig is dit die kerk wat sulke dinge doen.
Daar is egter ook bekende predikers, soos T. D. Jakes,
wat een keer gesê het: “I grew my first church,
from thousands to hundreds.”
Vir Jesus gaan dissipelskap oor die regte verstaan
en navolging van Hom! Dissipels is die mense wat
weet Hy is die Weg, en die Waarheid, en die Lewe.
Dissipels dien nie die Here vir enige byvoordele nie,
soos die mense in Johannes 6 wat wou hê Jesus
moet vir hulle brood maak sodat hulle elke dag kos
het om te eet nie. Nee!
Hy ís self die Brood van die lewe. Ons volg selfs nie
eers die Here omdat Hy vir ons kos, brood, gee nie.
Jesus alleen is genoeg. Net Hy!
Toe Jesus vir Petrus vra of hy nie ook die pad wil vat
saam met die ander wat hul rug op Jesus gedraai
het nie, antwoord Petrus Hom in Johannes 6:68:
“Here, na wie toe sal ons gaan?
U het die woorde wat ewige lewe gee.”
Hy maak die belydenis van sy lewe!
Jesus gee lewe! Ewige lewe!
Petrus sê nie Jesus is ‘n wonderwerker nie.
Iemand wat in al sy behoeftes voorsien nie.
Hy bely dat Jesus se woorde gelyk is aan lewe.
Om Jesus se woorde te eet, en te leef,
is om regtig te leef!
Ernest