In Matteus 12:38 vra party van die skrifgeleerdes
en Fariseërs vir Jesus: “Meneer, ons wil ‘n
wonderteken van u sien.” Dan sê Jesus in vers 39
dat geen teken aan hulle gegee sal word nie.
Hoekom? Hulle wou hê Hy moes ‘n paar groot
tekens vir hulle doen, om te wys hoe sterk Hy is,
voordat hulle sou glo. Jesus weier. Hy sê ‘n sondige
generasie soek tekens. Hulle wil eintlik godsdienstige
vermaak hê.
Vandag nog wil mense godsdienstig “entertain” word.
Hulle is nie ernstig in hul verhouding met die Here nie.
Jesus is nie ‘n wonderwerker wat op aanvraag allerlei
geestelike toertjies verrig nie. Hy is die Here.
Hy is self God. Tweede Persoon van die Drie Enige God,
Vader, Seun en Heilige Gees.
Toe sê Jesus vir hulle daar is wel een groot teken wat
getuig of sê Wie Hy regtig is. Soos Jona drie dae in die
vis was, so sou Jesus drie dae in die dood wees.
Slegs diegene wat hierdie teken van Jesus se sterwe en
opstanding verstaan en glo, begryp ook Wie Hy regtig is.
Ons wil ook dikwels hê die here moet optree ter wille
van ons. Hy moet ingryp met tekens en wonders.
Hy moet ons gou-gou uithelp. Hy moet gou iets doen,
sodat ons weet wat om te doen. Watter keuse om uit
te oefen.
Maar, dit gaan uiteindelik oor jou verhouding met
die Here en om deurlopend vir Hom te leef.
Nie om hier en daar ‘n teken te vra om jou saak of geloof,
of gebrek aan geloof, te dien nie.
Jesus se kruis en opstanding, en geloof daarin,
en die uitleef van die lewe wat Hy jou daardeur gee,
is genoeg. Dit is dan vir jou al teken wat jy ooit nodig het!
Daaroor dink jy, praat jy, en daarvoor leef jy.
Om persoonlik dié Jesus te ontmoet,
wat sy Godgelyke bestaanswyse verruil het vir die kruis,
Filippense 2:6-8, om ons vry te koop en God sin te maak,
is om vir altyd tot rus te kom.
Dan is Hy genoeg, meer as genoeg! Nou, en vir ewig.
Ernest