Romeine 5:1 sê: “God het ons dan nou
vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar
nou vrede tussen ons en God deur ons
Here Jesus Christus.” Glo dit en leef daaruit!
Vir baie mense gaan die sin en betekenis van
die lewe hand aan hand met dit wat hulle doen.
Wat hulle doen, is vir hulle wie hulle ís.
En so skarrel mense hul lewe lank rond om
indrukwekkende dinge te doen wat dalk
betekenis aan hulle lewe sal gee.
Maar dit is nie wat God in die eerste plek van
ons vra nie. Hy het nie ‘n prestasie-klousule in
ons lewe ingebou nie. Ons word nie van vroeg
tot laat deur die Here gemeet en geëvalueer nie.
Jesus het reeds klaar in ons plek gedoen en betaal,
wat gedoen moes word! Daarom roep Hy aan die
kruis uit dat dit volbring is, dat volledig betaal is.
Jesus voldoen in ons plek aan ál God se vereistes!
Lees dit weer! Glo dit! Namens ons het Hy betaal,
en namens ons het Jesus voor God aan alles
vir ons voldoen! Daarom is ons vrygespreek!
Ons het regtig vrede met God, in Jesus die Here!
Ons het tot rus gekom in Jesus Christus.
Die eindelose druk om heeltyd goed genoeg
voor God te probeer wees, is deur Jesus Christus
weggeneem. Hy het namens ons voldoen aan God
se wil. Ons is nou God die Vader se geliefde kinders.
Dit is ons nuwe identiteit wat Hy self aan ons gee
in en deur sy Seun Jesus Christus!
Ons kan net by ons hemelse Vader tot rus kom,
en ‘n dankie lewe vir Hom leef!
Al wat Hy van ons vra is om sy teenwoordigheid
te geniet, en sy liefde met opregte liefde uit ons
eie hart te beantwoord!
Ernest