Eeue terug het Griekse geleerdes gesê:
“Ken jouself!” Selfkennis laat jou vrede
maak met jou eie vermoë.
Jy leer ken jou talente en beperkings.
Dit laat jou in vrede leef met wie jy is.
Dit laat jou ook meer besef wat God se
doel met jou lewe is ten opsigte van die
gawes wat hy aan jou gegee het om Hom
en ander mense mee te dien. Die Here het
jou nie gemaak om alles vir almal te wees nie,
en daarom verwag Hy dit ook nie van jou nie.
Maar die Here het jou verseker ook nie geskep
om niks vir niemand te wees nie.
Die uitdaging en kuns van ‘n goed geleefde lewe
is om jouself voor God en ander te ontdek.
Dit gaan uiteindelik nie oor alles wat jý bereik het
in terme van wêreldse standaarde nie.
Die somtotaal van ‘n goeie lewe is om die gawes wat
God aan jou gegee het so te gebruik dat Hy sal sê:
“Mooi so goeie en getroue dienskneg.”
Dit sal die beste en mooiste woorde wees om jou
lewe te omraam en daaraan betekenis en sin te gee.
Wat moet ons doen om hierdie woorde te hoor?
Om te weet dat sy woorde van aanmoediging
lewens-veranderende woorde is wat ‘n verskil
in ons lewe gemaak het?
Dit gaan uiteindelik ten diepste oor die vind van
jou lewens-roeping voor God!
Hierdie roeping is om regtig alles wat jy doen vir
Hom te doen! Om dit tot eer van God te doen.
1 Korintiërs 10:31: “Of julle eet of drink,
of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”
Kolossense stel dit ook so prakties in Kolossense 3:23:
“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die
Here en nie vir mense nie.”
Wanneer God regtig alles vir ons is,
wil ons ook alles vir Hom wees.
Ons hoogste roeping is nie om die wêreld en ander
mense te probeer verander nie. Ons hoogste roeping
is om te weet ons is geskep, en in Christus herskep,
om God te eer, sy liefde te beantwoord,
sy lof te verkondig, en dankbaar sy liefde uit te leef.
Sonder hierdie kennis, jaag ons rond in alle rigtings,
en jaag ons uiteindelik wind!
Ernest