Psalm 84:3 sê: “Ek versmag van verlange na
die tempel van die Here; met alles wat ek is,
wil ek jubel oor die lewende God.”
Hierdie smag na die “tempel”, is ‘n smag na
die Here self! Die tempel het in die Ou Testament
die teenwoordigheid van die Here by die volk
beklemtoon. “Ek versmag” vertel van die psalm
skrywer se diep verlange en groot hongerte na
die Here.

Binne die realiteite van die lewe wat
soms baie hard kan wees, is daar by die kind van
die Here die hongerte na nog méér van die Here
se nabyheid en die belewenis daarvan.
Hierin lê ook die geheim van geestelike groei.
Om meer en meer van die Here te ervaar en
doelbewus in sy teenwoordigheid te leef!

Ons weet Jesus is genoeg. Hy het gesê Hy is die
Brood van die lewe. Hy het ook gesê Hy stil ons
honger en les ons dors. Die Heilige Gees oortuig
ons ook diep in ons hart dat ons vir ewig aan God
behoort. Nogtans is dit dieselfde Gees wat ons
voortdurend na God laat smag, na Hom laat verlang.
Aan die een kant is ons diep tevrede en innig dankbaar
dat ons verseker kinders van God is, en aan die ander
kant is ons ook diep ontevrede met die stand van ons
geestelike groei en geloof. Ons smag daarna dat die
Here ons meer en meer laat groei en glo.

Ons kan daarvan getuig hoe dikwels ons nog oor dinge
twyfel, of ons oor dinge bekommer, en ook sonde doen!
Ons betrap ons met liefdeloosheid, en ongehoorsaamheid
aan die Here. Soms voel ons selfs asof ons in die woestyn is.
Daarom smag ons na die Here, soos ‘n wildsbok wat smag
na water. Daarom verlang ons na die Here.

Psalm 84 verwoord hierdie diep verlange na die
teenwoordigheid van die Here en groei in die Here.
Om by Hom ons dors te les en ons honger te versadig.
Ons wil God se teenwoordigheid nog meer opsoek as gister
en eergister. En tereg sê die laaste deel van vers 3 dat ons,
met alles wat ons is, wil jubel oor die lewende God,
en oor sy teenwoordigheid.
Mag ons regtig smag na die Here!

Ernest