Psalm 84:4: “Selfs ‘n mossie het ‘n nes en
‘n swaeltjie ‘n plek vir haar kleintjies daar by U
altare, Here, Almagtige, my Koning en my God!”

Wanneer ons weet God is die Een wat swaeltjies
tuis laat voel by sy altare, vind ons wat sy kinders is
ook rus aan sy voete!
Wanneer ons so klein en weerloos soos mossies is,
plaas ons al ons hoop en verwagtinge op die lewende
God om ons Here en Redder te wees. Dan kyk ons van
die swaeltjies en mossies se blyplekke op na die Here.
Dan sien ons die Almagtige God uit ons klein hoekie
van sy skepping raak. Dan besef ons hoe almagtig Hy is!
En ons verander van self-gerigtheid na lof aan God.

Dit laat ons ook die Nuwe Testament perspektief
hiervan raaksien.
Teenoorgesteldes wen in Jesus se omgewing.
Vir Hom is klein nou die nuwe groot. Agter in die ry,
is nou die nuwe voor. Kinders word die grootmense
van geloof. Swak is die nuwe vorm van sterk,
beklemtoon Paulus dit ook. Laaste is die nuwe
eerste plek. Jesus keer bestaande ordes om.
Hy draai die wêreldse ordes en status op sy kop.

Die uitdaging vir ons wat in Hom glo,
is om hierdie nuwe orde in die koninkryk van God
baas te raak en uit te leef.
Die uitdaging is vernuwing in ons denke.
Ons moet nuut dink, en nuut kyk, en nuut leef.
Romeine 12:2: “...laat God julle verander deur
julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan onderskei
wat die wil van God is...”

Ernest