Daar is ‘n verskil tussen ‘n huis en ‘n tuiste.
Wanneer enige huis ‘n tuiste word, wil mense graag daar wees.
Wanneer ‘n huis ‘n plek van rusie, woede en ongelukkigheid is,
dan vermy mense dit. Hulle verlaat selfs die huis om nooit weer
terug te keer nie.

Wanneer Psalm 84:1 praat van versmag van verlange na die
tempel van die Here, dan het hierdie “huis” van die Here ‘n
tuiste geword. Daarom sê vers 5: “Dit gaan goed met die mens
vir wie U huis ‘n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie.”
Dit is om tuis te wees in die teenwoordigheid van die Here.
Om die Here se teenwoordigheid te geniet!
Om by Hom vrede te vind. Sy huis is vir hulle ‘n tuiste.

In die Ou Testament het die tempel die teenwoordigheid
van die Here uitgebeeld. Vandag bestaan die tempel nie
meer nie. Paulus leer vir ons dat ons elkeen se liggaam
afsonderlik, maar ook die ganse kerk van Jesus Christus in
geheel, nou die tempel van die Heilige Gees is!

Die nuwe tempel van die Here! 1 Korintiërs 3:16:
“Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die
Gees van God in julle woon nie?” Ook hoofstuk 6:19:
“Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die
Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees,
wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie
aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal.
Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.”

God bly nou tussen ons, en ook in ons! Nou word God
se kinders die plek van ‘n beker koue water, wonde wat
verbind word, sagte woorde onder leiding van die
Heilige Gees, vergifnis en liefde wat uitgedeel word,
in die Here se Naam. Nou dra die Here se kinders mekaar,
en bid vir mekaar en die wêreld.

Maar tuiskoms by die Here hou baie meer in as om net
tussen gelowiges te wees. Dit hou in om elke keer aan God
se eie voete te kom sit en op Hom te wag. En dit is ‘n aktiewe
wag op die Here. Nie ‘n passiewe wag nie.
Dit is om waaksaam te wees. Dit is die geestelike ingesteldheid
om gereed te wees vir die Here en ontvanklik te wees vir die
lewende God. Dit is die ware lewe self!

Om die Here se genade in te drink en aangeraak te word
deur die Heilige Gees, is ware groei!
Kry ons dit reg in hierdie lewe waar ons soveel dinge moet
afskakel om dit te bereik? Jou selfoon. Jou TV. Jou radio.
Jou oor-besige program. En wat nog alles...
Doen dit. Jy sal skielik tuis wees in die teenwoordigheid
van die Here soos nooit tevore nie. Waag dit! Of mis dit...

Ernest