Een dag op ‘n slag. So gebeur die lewe.
So kom God se genade elke dag nuut na ons.
Seker ook daarom dat die Psalm skrywer in
Psalm 84:11 sê: “Waarlik, één dag in U tempel
is beter as duisend daarbuite.”
So skryf Paulus ook in 2 Korintiërs 4:16 oor die
begrip van dag tot dag:
“Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie.
Al is ons uiterlik besig om te vergaan,
innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.”
Elke oggend is God se trou en sy ontferming nuut!
So vertel Klaagliedere dit treffend in 3:21-23:
“Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede
bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons
nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy
ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.”
God is daagliks besig om Hom te ontferm oor sy kinders.
Elke dag. Elke oomblik. Elke dag maak saak vir God.
Ook Jesus leer ons bid vir ons daaglikse brood. Vandag,
hier en nou, is waar ons tans leef! Vandag se lewe is die
enigste lewe wat ons tot ons beskikking het.
Ons moet vandag aandurf met waagmoed en uitleef
tot eer van God.
Een dag, vandag, in die Here se teenwoordigheid,
is meer werd as duisend dae weg van die Here af.
Een dag se lewe bewustelik by die Here,
oorroep ‘n ganse leeftyd wat gevul is met jou
ander prioriteite. Glo dit. Leef vandag by die Here.
Leef vandag saam met die Here.
Ernest