Ons almal is reisigers. Die hele lewe is ‘n reis.
‘n Reis met ‘n vertrekpunt, ‘n koers en
‘n eindbestemming. Die kuns van ‘n goed
geleefde lewe is om te weet Wie jou reisgenoot
en ander reisgenote is, op watter roete jy is,
en wat die uiteinde van jou pad is.
As jy dit weet, weet jy die belangrike.
‘n Reis sonder fokus is ‘n sinnelose reis.
Daarop verdwaal jy maklik. En jy weet dit nie eers nie!
Dit is ‘n reis onderweg na nêrens. Ons reis moet op
die pad wees waar al ons fokus verskuif na God toe.
Dit is ook die pad waarop ander mense regtig vir ons
saak maak en ons nie net op onsself gefokus is nie.
Filippense 2:4: “Julle moet nie elkeen aan sy eie
belange dink nie, maar ook aan die van ander.”
Ons ken die uitdrukking: “Carpe diem” – gryp die dag!
Maar ons moet ook ‘n ander uitdrukking onthou:
“Carpe manana” – Gryp die dag van môre!
Ons moet ook in geloof die tree gee na môre.
Die beste manier is om vandag jou hand in God
se hand te sit, ook vir môre!
Die lewende God weet reeds alles van môre.
Die toekoms behoort aan Hom. Hy is reeds daar!
In die greep van sy genade is jy veilig vir vandag,
en vir môre!
Ernest