In Oktober 2012 het Felix Baumgartner
van so hoog soos 39,26 kilometer bokant
die aarde uit ‘n ruimteskip-lugballon gespring!
Dapper die onbekende in!
Hy het vir 4 minute en 20 sekondes vry geval!
Uiteindelik het hy teen 1 342 km/h,
vinniger as die spoed van klank, geval na die
aarde toe! Dit is verstommend.
Dit is verstommend wat mense sal doen om
rekords te breek. En om drome te jaag.
Ewe dapper het Moses op 80-jarige ouderdom
‘n groot volk die onbekende in geneem.
Vir 40 jaar het hy ‘n ander vorm van “vry-val” beleef!
Tog het Moses ook beleef dat God dag vir dag getrou is,
as jy op sy bevel die onbekende in “val”,
veral as dit is teen, vir jou, onbeheerbare “hoë-spoed”!
Dan breek jy ook “hemelse” rekords hier op aarde!
Die onbekende maak mense bang en ontsteld.
Daarom verkies hulle eerder die bekende met al sy
moeilikhede en probleme. Geen wonder die Israeliete
is onseker en ontsteld en wou weer omdraai na die
slawe-lewe in Egipte nie.
Onsekerheid en die onbekende het hulle bang en
ontsteld gemaak. Hulle weet nie waarop om te fokus nie.
Tog is die regte soort fokus nié gelyk aan sekerheid
oor die pad vorentoe nie.
Jy kan nie wag totdat jy alle koersaanduidings sien,
voordat jy die pad aandurf nie.
Die regte fokus in ons lewe het te make met op Wie jy fokus!
As jy weet die Here trek saam, soos Moses geweet het,
kan jy enige pad aandurf.
Met God by jou, hoef jy jou nie in die eerste plek oor
die pad self te bekommer nie. Hy ken die pad.
Nog meer. Hy ís die pad!
Is jy ontsteld en onseker oor die tye waarin ons lewe?
Kyk hoe vertaal die Nuwe Lewende Vertaling Jesus se
woorde in Johannes 14:1:
“Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God
te vertrou en vertrou ook ten volle op My.”
Ernest