Negatiewe denke steel ons geestelike konsentrasievermoë.
Wanneer ons gedurig aan onsself dink as geestelike
mislukkings wat dit “nie maak nie”, en wat die Here teleurstel,
dan gaan ons geestelike konsentrasievermoë laag wees.
Negatiewe denke en self-twyfel loop saam.
Dan begin ons dink dat ons nooit iets vir God sal regkry nie.

Dit gaan nie hier oor oordadige selfvertroue of arrogansie nie.
Ons is nie geroep om op ons eie die koninkryk van God te bou
en net op ons eie vermoëns te steun nie. Inteendeel.
God roep ons om in afhanklikheid van sy krag en nabyheid te leef.
Ons vind ons identiteit, sekuriteit, geestelike vaardighede,
en vermoë in Hom! Daarom moet ons nie toelaat dat ons besig is
met negatiewe geestelike binne-gesprekke in onsself nie.

Wanneer ons net begin fokus op dit wat ons verkeerd doen,
of op alles wat ons nog nie voluit vir die Here doen nie,
sal ons nie geestelik kan groei soos die Here dit wil hê nie.
Elke geestelike berg voor ons raak dan vir ons te hoog.
En elke roete wat die Here wil hê ons moet loop,
raak dan vir ons te moeilik. Dan fokus ons nie meer op
die Here en sy krag, en ons oorwinning in Hom nie,
maar op onsself en ons eie onvermoë, sonder Hom!

Hoe kan ons byvoorbaat dink ons gaan dit “nie maak nie”?
Dit is eenvoudig nie waar nie, wanneer jy kind van die Here is!
Die Here Jesus het dit reeds vir jou en namens jou “gemaak”!
Ons is reeds nuut gemaak om ons lewe te wy aan die
goeie werke wat God vir ons bestem het! Kyk net weer wat sê
Efesiërs 2:10 so duidelik: “God het ons gemaak wat ons nou is:
in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan
die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Ons is nie net in staat om reg te leef in die Here se Naam nie,
ons doen dit ook inderdaad! Hy is tevrede met ons wat gekoop,
afgesonder en nuut gemaak is deur Jesus! Wanneer God nou
na jou kyk, kyk Hy deur Jesus na jou. Jý hoef dit nie te “maak”
om aan God se vereistes te voldoen, om sy kind te wees nie.
In Jesus Christus is jy nou reeds sy kind.
Leef net vrymoedig saam met Hom as sy kind!
Hy het jou onbeskryflik baie lief!
Hoe is dit moontlik dat jy negatief hieroor kan dink!?
Moenie na die duiwel luister nie.
Luister na God!

Ernest