Ons belewe almal die frustrasie “tot die dood toe”, by wyse van spreke,
dat die goeie dinge wat ons wil doen, doen ons nie.
Maar die slegte dinge wat ons nie wil doen nie, doen ons!
Paulus beskryf hierdie absolute frustrasie met onsself in Romeine 7:19-24:
“Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie.
Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek.
Sonde is my baas.
Elke keer as ek besluit om goed te doen, pooitjie die sonde my….
In my doen en late geld daar dus ‘n ander wet as in my binneste:
Die sonde.
Ek is vasgevang in ‘n geweldige tweestryd:
Aan die een kant wil ek die wet gehoorsaam met alles wat binne-in my is,
maar aan die ander kant is my liggaam ‘n gevangene van die sonde.
Wat ‘n patetiese mens is ek nie…!”
Ons sal alles behalwe dink dat Paulus ‘n patetiese mens was!
Maar hoe kan ons nie met sy absolute frustrasie vereenselwig nie!
Dit is soos Robert Louis Stevenson se Dr. Jekyll and Mr. Hyde!
In die dag is hy die gerespekteerde figuur, en in die aand die ánder persoon.
Geskok, en tog ook gefassineer, leef hy altwee persoonlikhede, en pleeg selfs moord!
Toe hulle vir Stevenson vra waar hy sy idee gekry het, was sy antwoord:
“I found it in my nature!”
Soos Paulus sê:
“Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie.
Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek.”
En dan vra hy:
Wié sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
Gelukkig hou die boodskap nie hier op nie!
Goddank!
Want vers 25 sê:
“Goddank!
Daar is wel Iemand wat my uit hierdie doodsbestaan bevry.
Sy Naam is Jesus Christus!
Hy is ons Here!”
Die Nuwe Vertaling sê dit só:
“Aan God die dank!
Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here!”
Goddank!
Ernest