Dit het dikwels ‘n vroom kerklike cliché geword,
hierdie waarheid: God het jou lief!
Hierdie waarheid moet egter in die diepste diepte
van jou hart gaan grondvat, en groei en groei!
God het alles reggemaak wat verkeerd was tussen
ons en Hom. In Christus Jesus is ons met God versoen.
God het ook hierin voorsiening gemaak vir die kere
wat ons van die spoor afdwaal. In sulke teleurstellende
oomblikke is Christus steeds ons Voorspraak by die Vader!

Natuurlik mag ons nie in sonde rondlê en daarin volhard nie.
Dan verstaan ons die evangelie van genade heeltemal
verkeerd. Maar ons mag en moet dit weet:
God het ons lief soos ‘n volmaakte Vader.
Hy het ons vir ewig lief. Hy het ons tot die uiterste toe lief.
Daarom het Hy ons in Christus vrygemaak om sy kinders
te wees. Christus het ons duur gekoop vir God.
Ons is afgesonder en aan Hom gewy.
Hy het ons met feesklere geklee!
Daarom sê Lukas 15:32: “Ons kan tog nie anders as om
fees te vier en bly te wees nie...”

God het jou met oop arms aanvaar as deel van sy familie!
Soos die pa van die verlore seun, hou Hy nou vir jou
en saam met jou ‘n feesete! Ons Vader verskuif ons aandag
weg van ons foute en die varkhok waarin ons was,
na die fees saam met Hom! Die fees van ons terugkeer
en tuiskoms by Hom. Dit alles het Christus vir ons gedoen.

Ons het nou in elk geval nie meer die tyd of energie om
te mors om op ons ou sondaar lewe te konsentreer terwyl
ons in die teenwoordigheid van die Here leef nie!
Ons word nou heeltemal oorweldig deur die nuwe lewe
in Hom, en deur sy teenwoordigheid by ons.
Ons belewenis van God se ruim en onbeskryflike groot liefde
laat ons konsentreer op die lewe saam met Hom!
Sy liefde en oordadige vergifnis en genade oorweldig ons!

Ernest