‘n Deel van die lewe wat ons maklik afskeep as gevolg van
ons gejaagdheid en besige programme, is ‘n gesonde leefstyl.
In tydskrifte en koerante, en op TV sien ons baie hieroor,
en lees dit, en vergeet dit. Ons gaan gou maar net weer aan
om ongesond te leef. Ons eet verkeerd, slaap en rus te min,
kry nie genoeg oefening nie, en kom nie genoeg in die
buitelug nie. Ons ontspan verkeerd, en spandeer te min tyd
aan vriende en familie.
Ons moet ook nie te vroom raak om oor gesonde leefstyl
te praat nie. Ons lag te min uitbundig, en vier te min fees!

Die Here het ons met liggame en al geskep en wil dat ons
ons liggame versorg en vir onsself omgee. Daarvoor het ons
nie duur grimering of klere nodig nie. Ons het net die
waardering en versorging van ons liggaam nodig.
Ons liggaam maak ook saak vir God. ‘n Gesonde liggaam
huisves ‘n gesonde gees, sê die spreekwoord.

Paulus skryf pertinent in 1 Korintiërs 6:19 dat ons liggaam
vir God kosbaar is, en dat dit die woonplek van die
Heilige Gees is, en dat dit aan God behoort!
“Besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die
Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees,
wat in julle woon, van God ontvang,
en julle behoort nie aan julleself nie.”
Ons behoort nie aan onsself nie. Ons kan nie met
ons liggaam maak wat ons wil nie. Dit behoort aan God.

Paulus skryf ook hier teen die agtergrond van seksuele
immoraliteit. Ons liggaam is God se eksklusiewe eiendom.
Hy het dit gekoop en ook ons liggaam is in God se diens.
Ons moet dit oppas. Ons moet gesond eet, genoeg oefen,
gesond leef, genoeg rus, en ons liggaam versorg.
Ons moet ons liggaam, as eiendom van God, respekteer.

Ernest