Die Here het ons so geskep dat ons nie soos masjiene
net kan en moet aanhou en aanhou tot ons ingee nie.
Ons is mense met liggaam, hart, siel en gees.
Rus en slaap is een van die Here se skeppings om ons
liggaam te bewaar en in stand te hou. Hoekom wil ons
slimmer as die Here wees, en ons liggame dryf totdat
ons ingee. Dan respekteer en waardeer ons nie ons
liggaam en gees wat die Here aan ons gegee het nie.

Genoeg rus is gelyk aan ‘n gesonde afskop elke dag.
Dit is om helder en vars wakker te word en met jou
volle potensiaal vir die Here diensbaar te wees.
Ons is dit aan die Here en aan onsself verskuldig.
Ons moet dit ook doen om ons geestelik gesond en
wakker en nugter te hou. So hou ons ook ons geloof
op die lange duur kerngesond omdat ons liggaamlik
en geestelik weerstand kan bied.

Dawid het dit al gesnap. Wanneer hy onder groot
emosionele en fisiese druk moes vlug voor sy eie seun,
Absalom, vertrou hy die Here, en kry tussendeur ‘n
goeie nagrus in! Nie eers die grootste lewensgevaar
en emosionele druk het sy aandag weggeskuif van God
af nie. Dawid het oop-oë en toe- oë die Here vertrou.
Dag en nag was sy lewe doelbewus in God se hande.
Daarom kon ‘n goeie nagrus, ook in moeilike
omstandighede, vir hom moontlik wees.

Dawid skryf in Psalm 3:6: “As ek gaan lê, slaap ek goed;
ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.”
Dikwels slaap ons te min omdat ons dink dit is net ons
wat vir onsself moet sorg...

Ernest