Paulus vra in Kolossense 4:3:
“Moet asseblief ook nie vergeet om vir ons te bid nie.
Vra God om vir my deure oop te maak sodat ek vir
mense van Christus kan vertel.”
Ons leef in ‘n wêreld waarin die meeste mense net
op hulself gerig is. Gebed vir mekaar help ons om weer
op mekaar ingestel te word. Kyk ook waarvoor vra
Paulus dat hulle vir hom moet bid.
Nie iets persoonlik nie. Wanneer ons in Paulus se
skoene was, sou die meeste van ons seker bid om uit
die gevangenis bevry te word. Dit is waar hy hier sit.
Of ons sou bid vir beter en meer kos in die gevangenis.
Maar Paulus sit in die gevangenis en bid vir
God se koninkryk. God en ander mense se belange
oorheers Paulus se gebed.
Daar is soveel mense wat God krities nodig het.
Hulle sleep soveel saam in die lewe.
Hulle dra so oneindig swaar. Vir hulle moet ons intree.
Dikwels is mense so seer dat hulle nie eers kan bid nie.
Ander kere is hulle “te vêr” van God af om te bid.
Mense is soms net te deurmekaar en onseker om te bid.
Ons moet intree vir mense en vir hulle bid.
Die Here sal soveel mense op ons harte lê as ons net
met sy oë begin kyk. Paulus vra hier dat hulle moet bid
dat God deure vir hom sal oopmaak. Let op,
deure om die koninkryk van God uit te brei. Ons bid ook
dikwels dat God deure moet oopmaak,
maar dit is deure ter wille van onsself. In hierdie opsig
moet ons eerder bid dat die Here ons sal wys watter deur
óns moet oopmaak. Dit is anders as om te bid dat God
die deure sal oopmaak. Wanneer ons bid dat die Here
ons moet wys watter deure óns moet oopmaak,
bly dit ons verantwoordelikheid om te werk in die
koninkryk van God. Soms raak ons so passief en dink
ons dit is God se werk om al die werk te doen.
Dan word ons “vra” eintlik opdrag aan die Here.
Ons moet die moontlike doen, en die onmoontlike
aan God oorlaat.
Gebed is nie om aan God te delegeer wat óns moet doen nie!
Ernest