Of ons dit wil weet of nie, mense “lees”
die kinders van die Here. Hulle kyk hoe ons
in situasies optree en leer of kritiseer.
Hulle kan ook nie wag dat Christene oor die
kantlyn van die lewens-wedstryd trap nie.
Hulle wil net kan sê dat Christene nou nie so
danig “heilig” is nie. Natuurlik is dit ook die
Bose se manier om ons getuienis minder
trefkrag te gee. En mense wat nie iets met
die Here te doen wil hê nie, soek ‘n stok om
mee te slaan.
Paulus gee goeie raad in Kolossense 4:5:
“As julle met mense te doen kry wat nie Christene
is nie, moet julle julle veral goed gedra.
Gebruik elke oomblik om ‘n positiewe invloed op
hulle uit te oefen.”
Die belangrike is dat ons sensitief moet wees.
Die fout wat ons maak is om veroordelend te wees.
“Ons” en “hulle”. Ons moet so optree ter wille van
die Here dat niemand ‘n vinger na ons kan wys nie.
Ons moet Christus se beeld vertoon! Ons moet so
optree dat ander mense dit ook so wil doen soos ons.
Ons moet mense aantrek na God toe.
Ons kom elke dag met mense in aanraking wat nie
vir God ken nie. Waar sal hulle vir God “sien”?
Hulle loop nie sommer in ‘n kerk in nie? Hulle vra nie
vir mense om hulle te help om Jesus te ontmoet nie.
Dit is die uitsonderings dat dit gebeur. Daarom kan jy
dalk die enigste een wees in wie hulle God raak “sien”.
In jou kan hulle Jesus se beeld sien. En juis daarom is
dit so belangrik om juis in die moeilike omstandighede
op te tree soos die Here dit wil hê. Dit is veral daar
waar hulle dit raaksien.
Franciscus van Assisi het gesê: Vertel ander van Jesus,
en indien nodig, gebruik woorde!
Jy is dalk in jou optrede die enigste Bybel wat sekere
mense rondom jou “lees”. Let op die woorde in vers 5:
“Gebruik elke oomblik...” Ons word aangemoedig en
opgeroep tot dringendheid hierin. Een van die ouer
Afrikaanse vertalings het gesê:
“Wandel in wysheid teenoor die wat buite is,
en koop die tyd uit.” Moenie wag of uitstel nie.
Doen dit altyd. Doen dit elke dag. Doen dit nou.
Hoor die erns en dringendheid in hierdie vers.
Ernest