Dikwels vra mense vir iemand of hulle sy of haar
naam kan opgee as ‘n referent op hul CV.
En dan wil jy as referent tog eerlik wees as iemand
jou skakel.
Paulus het seker nou nie doelbewus as referent
opgetree vir Tigikus nie, maar kyk wat skryf hy in
Kolossense 4:7 oor hom: “Ek stuur my goeie vriend
Tigikus terug na julle toe. Hy sal vir julle alles van my
kom vertel. Ek hou regtig baie van hom. Hy werk hard
vir die Here. ‘n Mens kan op hom staatmaak. Ek weet,
want ek werk saam met hom.”
Tigikus het hard gewek om die verlossingsboodskap
by gewone mense uit te kry. Hy was vermoedelik een
van die 70 wat Jesus uitgestuur het. Paulus noem hom
sy broer wat saam met hulle in die juk trek. Hier teken
Paulus in net ‘n paar sinne ‘n groot prentjie van Tigikus!
Hy is ‘n vriend wat enige tyd enige iets vir jou sal doen.
Hy is nie op homself ingestel nie, maar op ander,
om hulle te dien. Almal hou van Tigikus. Hy laat jou goed
voel as jy by hom is. Hy stel in jou belang en gee regtig om.
Hy wil weet waar hy kan help. Paulus weet baie dinge van
hom omdat hulle saam werk. Hy weet hy kan op hom
staatmaak. Hy sien dit daar waar hulle saam buig vir
die Here en vir mense. Tigikus verander mense se lewens
met wie hy te doen kry.
Ons moet langs hierdie man gaan staan om die Here te dien.
Maar ook om onsself te meet in ons dien van die Here en mense.
Wat sou Paulus nou moontlik oor ons geskryf het as ons saam
met Hom die Here gedien het? Hou sou ‘n getuigskrif vir jou lyk?
Wat sou Paulus as referent oor jou sê?
Moenie in sak en as sit as jy nie vrymoedig langs Tigikus kan
staan nie. Elkeen van ons het die potensiaal om deur die Here
gebruik te word? Hy wil jou gebruik. Jou spesifiek met sy gawes
aan jou. Besef dit en stel jou net tot beskikking van die Here.
Doen dit vandag. Kom ons gaan wys met die manier hoe ons leef,
hoe Jesus lyk!
Ernest