Paulus laat ons nog een van sy vriende en
medewerkers ontmoet wat help om die
evangelie uit te dra. Sy naam is Onesimus.
Sy verhaal het nie so mooi begin nie,
soos met baie van ons die geval is.
Hy was oorspronklik Filemon se werker,
maar het êrens langs die pad gedros.
Terwyl hy ‘n leeglêer was, kruis sy pad met
die van Paulus. Hy kry die boodskap van
verlossing in Jesus Christus by Paulus,
en dit draai sy hele lewe om.
Dit laat Paulus hierdie getuienis oor Onesimus
skryf in Kolossense 4:9: “Ek het Onesimus
gevra om saam met Tigikus Kolosse toe te gaan.
Hy is mos een van julle. Hy is net so betroubaar
soos Tigikus en ons is ook baie erg oor hom.
Hy is ‘n lojale broer vir ons. Wat Tigikus vergeet
om vir julle van ons te vertel, sal Onesimus
sekerlik byvoeg.”
Dit is ‘n treffende getuienis van iemand wat
eers op die verkeerde pad was. Hy was nie
betroubaar nie, en het net aan homself gedink.
Maar dan loop hy hom in die Here vas met die
boodskap wat Paulus aan hom bring. Sy hele
lewe draai om. Ook ons wat onbruikbaar was,
se hele lewe draai om wanneer die Here ons
lewe oorneem. Soos Onesimus, raak ons
bruikbaar vir die Here. Dalk het Filemon hoop
opgegee met Onesimus se selfgerigtheid.
Toe hy dros, het Filemon hom eenvoudig laat
gaan.
Gelukkig gee God nooit moed op met ons nie.
Ons kry weer en weer nog ‘n kans. Ons moet
ook nie moed opgee met mense nie. Ons moet
die kanse wat ons in oorvloed van God ontvang,
uitdeel na mense rondom ons. Natuurlik moet
ons ook by tye ‘n streep in die sand trek wanneer
ons weet God se eer en wil is nou op die spel.
Ons moet bly vra of ons genoeg gedoen het
om die een wat die verkeerde pad gekies het te
help om op die regte pad te kom. Baie keer is dit
net daardie een hand wat jy nog ‘n keer uitsteek
wat die persoon help om uit die modder te kom.
Dikwels is dit juis die persoon wat jy uitgehelp
het wat weer later baie ander uit die modder help!
Hulle weet presies hoe dit voel om daar te wees
en wat dit beteken dat iemand jou nog ‘n keer
opgehelp het.
God is ‘n God van nog kanse.
Hy is die God van genade.
Ons moet dit uitdeel in hierdie wêreld.
God se genade.
Ernest