Paulus gee aan die einde van die Kolossense Brief
aan ons ‘n kykie na sy ondersteunings netwerk.
Hy dra aan die gemeente groete oor namens sy
vriende: Aristargos, Markus, Jesus wat ook Justus
genoem is, Epafras, Lukas, Demas, en dan natuurlik
Tigikus en Onesimus. Dit is duidelik dat ons nie
alleen die pad vir die Here kan stap in hierdie
wêreld nie! Ons het mekaar regtig nodig.

Baie kere het dit goed gegaan met Paulus.
En dan was daar tye van doodsgevaar en baie
verdrukking en verwerping. Ons weet ook hoe
gereeld van sy vriende saam met hom in die tronk
sit weens hulle geloof in Jesus Christus en hul
getuienis vir Hom. So was eersgenoemde van
bostaande lys, Aristargos, ook saam met hom in
die tronk. En hoe het hulle mekaar nie ondersteun
en deurgedra nie.

Ons het reeds gesien met watter begrippe Paulus
sy vriende beskryf: hardwerkend vir die Here,
staatmakers, mense wat ander moed inpraat,
betroubaar, lojaal, getuies vir God, en selfs
lewensredders. Honderde mense is gered omdat
hulle deur hierdie mense vir die eerste keer die
verlossings boodskap van die Here gehoor het.
Voorwaar ‘n hegte groep vriende en medegelowiges.

Paulus wou seker nie een uitsonder en van ander
vergeet nie, maar tog maak hy melding van Epafras:
“En dan is daar natuurlik Epafras wat julle so goed ken.
Hy het my gevra om julle spesiaal namens hom te groet.
Hy gee al sy tyd en energie vir Jesus Christus.
As ons maar hoor, bid hy baie ernstig vir julle, veral vir
julle geestelike volwassenheid. Hy vra God om julle te
help om nie ‘n duim van koers af te wyk nie. Hy bid dat
julle lewe al hoe meer sal word soos God dit wil hê.
Ek kan julle verseker, hy bid ernstig vir julle in Kolosse.”
– Kolossense 4:12-13.

Wat ‘n voorbeeld van iemand wat ander in gebed na
God toe dra. Kom ons bid ook vir mekaar en ons
ondersteuning van mekaar. Kom ons belê ook al ons
energie in Jesus se wêreld. Kom ons bid ook ernstig vir
mekaar. Bid dat ons sal groei in geestelike volwassenheid.
Bid vir mekaar dat ons nie ‘n duim van koers sal afwyk nie.
Bid vir mekaar dat ons lewe al hoe meer sal word soos
God dit wil hê.
Dit is wat Epafras alles bid vir die geliefdes in Kolosse!

Ons het mekaar broodnodig. Wees deel van ‘n
ondersteunings netwerk en bid vir daardie netwerk van
gelowige vriende. God het ons vir mekaar gegee,
en ons moet ons energie in mekaar belê.
Ons het mekaar regtig só nodig.
Weereens: God gee ons vir mekaar!

Ernest