Terwyl Paulus besig is om oor sy ondersteunings
netwerk te praat en die gemeente in Kolosse aan
die einde van sy brief te groet, spring een naam
skielik voor hom op:
“En, o ja, sê asseblief vir Agrippus dat hy moet
volhou met die taak wat die Here vir hom gegee het.
Hy moet sorg dat hy dit klaarmaak.” – Kolossense 4:17.

Ons moet mekaar aanmoedig ten opsigte van die
roeping wat die Here aan elkeen van ons gegee het.
Ons moet mekaar help met insig en wysheid dat ons
nie êrens langs die pad verkeerde afdraaie neem nie.
Elkeen van ons het ‘n roeping. Omstandighede kan jou
vinnig en maklik weglok van jou roeping. Veral as jy
voel daar is nie resultate nie. Dit kan jou roeping
doodmaak as jy toelaat dat omstandighede jou
koers bepaal.

Ons moet dat die roeping van die Here aan elkeen
van ons ons koers bepaal! Dit is hier waar ons mekaar
nodig het, en moet doen wat Paulus met Agrippus doen.
Hy moedig hom aan om tot die einde toe alles in te sit
om sy roeping uit te leef.
Moenie net op resultate fokus nie. Bly gehoorsaam aan
jou roeping. Jou “sukses” lê in gehoorsaamheid aan God,
nie in resultate nie. God sal sy resultate met jou roeping
bereik soos Hy wil. Jy moet dit net volhou soos die Here vra,
en dit klaarmaak, soos Paulus hier sê in vers 17.

Ons sien in elk geval nie die volle prentjie soos God dit sien nie.
Fokus op God en gehoorsaamheid aan jou roeping vir Hom.
Wanneer jy getrou is in die saai van die saad in die koninkryk
van God, sal God self sorg dat die saad groei en oes lewer!
Kom ons moedig mekaar aan. Ons is dit aan mekaar verskuldig.
Ons moet mekaar dra en bemoedig en aanmoedig.
Alles ter wille van die eer van God,
en om sy koninkryk uit te bou en op te bou.

Ernest