Geloof gaan daaroor om Jesus met jou
hele lewe na te volg. Hoekom is dit so dat
so baie kerkmense dit juis nie doen nie?
Hulle volg hul eie besluite en wil net die Here
se stempel van goedkeuring daarop hê.

Daar word blatant selfsugtig gelewe,
sonde word baie se beste vriend,
en sogenaamde kerkmense doen in die lewe
daarbuite net wat hulle wil. Nogtans praat hulle
van hulself as gelowiges. Hoe ver kan belydenis
en lewe nou van mekaar af lê? Dit kan tog nie.

Die feit is dat daar nie verskillende vlakke van
dissipelskap bestaan nie. Dit wissel nie van deeltydse
dissipels na voltydse dissipels van die Here nie.
Of van Sondag dissipels na mid-week dissipels nie.
Ons kan tog ook nie seisoenale kerkgangers wees nie.
Ons kan nie Jesus volg wanneer ons “tyd het”
daarvoor nie.

Uit die Bybel, uit Jesus se mond self,
leer ons dat dit net oor twee woorde gaan: “Volg My!”
Wanneer jy hierdie woorde regtig hoor kom jy tot stilstand.
Jy verander jou prioriteite. Jy verander jou tydsbestuur.
Jou beplanning. Jou leefstyl. Alles!
Dit gebeur omdat die Heilige Gees beheer van jou lewe
oorneem. Hy gee nuwe inhoud aan alles wat jy doen.
Jou werk. Jou huis. Jou vriende. Jou ontspanning. Alles.
Jy doen dit alles nou met nuwe betekenis en inhoud!

Die Here raak jou waar niks anders bykom nie,
en dit is lewensveranderend! Hy vervang jou hart van klip
met ‘n hart wat nou vir die Here klop. En vir mense.
Die vraag is of jy Jesus voltyds navolg? Is ons besig met
vroom lippetaal, of leef en doen ons die wil van die Here?
Is ons dissipelskap ‘n feit, of fiksie?
Wat sal jou lewensmaat sê oor hoe jy leef as dissipel?
Of jou kind? Of jou kollega? Of jou ondergeskikte by die werk?
Jou handlanger in die tuin?

2 Korintiërs 3:2 sê: “Julle is self ons aanbevelingsbrief,
geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan.”
Ons is lewende briewe van Christus wat gedurig deur
ander mense gelees word. Wat lees hulle by ons? By jou?

Ernest