“God het ons nou vrygespreek deurdat ons glo.
Daarom is daar nou vrede tussen ons en God
deur ons Here Jesus Christus.” – Romeine 5:1.
Ons moet minder word, en God meer, in ons lewe.
Hy word eintlik alles! Dit beteken nie dat ek nou
ophou om te leef en te bestaan nie. Inteendeel.
Dit is juis wanneer die ware lewe en sin van my
bestaan ten volle ontplooi. Baie gelowiges sukkel
hiermee. Hulle dink as hulle “alles” vir die Here gee,
dan moet hulle hul identiteit en menswees in die
proses verloor. Dit is nie so nie.
Ons kan nie ophou om onsself te wees soos die Here
ons geskep het nie. Dan word ons skynheilig.
Dan begin ons ‘n masker dra. Dit is ons selfsugtige en
sondige kant van ons menswees wat gekruisig moet word.
Ek bly nog die persoonlikheid wat die Here my geskep het.
As ek ‘n introvert was, verander ek nie nou in ‘n ekstrovert
nie. Of andersom nie. Ek het nog steeds dieselfde gawes
waarmee die Here my geskep het, maar dit word nou
aangewend ter wille van die koninkryk van God.
Ons moet wees wie ons is. Maar nóú is ons ‘n gehoorsame
weergawe van onsself, gehoorsaam aan die Here.
Ons moet vrede maak met ons talente en gawes en ons
moet daardie eksklusiewe mens wees wat God geskep het
tot sy eer. Uniek. Dit is deur daardie unieke mens wat Hy
geskep het, deur wie Hy homself wil verheerlik.
Wees wie God jou maak om te wees. Moenie iemand
anders probeer wees nie. Ons bly onsself, al word ons
minder in God se teenwoordigheid. Juis die feit dat Hy
meer in ons word, maak dat ons meer word wie Hy ons
geskep het om te wees!
Saam met die feit dat ons onsself bly as ons minder
word in God se teenwoordigheid, moet ons ook verstaan
wat dit beteken dat Christus al ons sondeskuld by God
ten volle betaal het! Ons is regtig vry omdat God ons
in Christus vrygemaak het, en omdat Jesus nou die Here
van ons lewe is. Die sondeskuld is van ons skouers af.
Ons is totaal vry van die skuldlas wat ons gedra het.
Ons is nou God se geliefde kinders! Ons probeer nie
die Here se genade elke dag van voor af verdien deur
ons toewyding, gehoorsaamheid of goeie lewe nie.
Ons leef eenvoudig gehoorsaam aan die Here om vir Hom
dankie te sê, nie om enige iets te probeer verdien nie.
Ons kan nie. Ons is eenvoudig deur God self vrygemaak,
om nou vry vir Hom te leef! Ons is vry om Jesus se beeld
in ons te weerspieël.
Gaan leef vrymoedig en vry in die Here!
Dit is lewe! Ware lewe!
Ernest