Gelowiges loop dikwels met die skuldgevoel
dat hulle te min vir die Here doen,
en dit te laat doen. Ons dink dikwels ons kan
baie meer vir die Here doen en dit baie gouer doen,
voor dit “te laat” is. Die vraag is:
Wanneer het jy nou genoeg gedoen,
om nie meer hierdie skuldgevoel te dra nie?
Of wanneer het jy altyd dinge betyds vir die Here gedoen,
sonder om te laat te wees daarin?

Wanneer ons hierdie tipe van denke as meetinstrument
gebruik in ons lewe vir die Here, sal ons altyd onder druk
van ons eie skuldgevoel wees. En dit is presies wat die
bose wil hê. Dat jy voortdurend “in skuld” by die Here is.
So leef jy nie vry in Christus nie! So is jy gebind met wat jy
“behoort te doen”, en wat jy “so gou as moontlik”
moet doen. Jy sal nie daarmee rus vind in die Here nie.
Want nou is jy terug by eie prestasie en goeie dade om
die Here tevrede te hou. Bogenoemde het niks te doen
met die dringendheid om die koninkryk van God uit te dra
en uit te leef nie. Ons almal sal gedurig te min te laat doen
as dit net van óns afhang!

Een van die grootste skuiwe wat in ons lewe moet plaasvind,
is dat ons moet ontdek dat God se genade ons bevry
van skuldgevoel. Genade is God wat al die pad na my toe stap,
en nie ék wat in goeie dade en betyds na God toe stap nie.
En dit doen God ten spyte van wie of wat ek is, en wat ek vir
Hom kan doen. Genade is Jesus wat alles in my plek kom doen
en al my straf kom dra. Genade het een Naam: Jesus.
Dit het een roete: die kruis. En hierdie genade in Jesus Christus
het een gevolg vir almal wat dit vasgryp:
vryheid en ewige vryspraak!

So is ek ook in hierdie genade vry van te min...te laat.
Jesus maak ons vry om waarlik vry te wees.
Só leef ek vry, en dankbaar, vir die Here.

Ernest