Kolossense 2:14 vertel dat Jesus die aanklagte
wat God oor ons sondige leefstyl teen ons
ingebring het, aan die kruis vasgespyker het.

Daar het Jesus ons bevry deur die prys daarvoor
ten volle te betaal. Die gevolg is dat ons nou
werklik nuwe mense is! Paulus skryf dit duidelik
in 2 Korintiërs 5:17 en Galasiërs 6:15.
Elke binding wat oor ons lewe gehang het se mag
is finaal geknak! Geen sondige roetes het meer
mag oor ons nie. Aan die kruis het God self die
vyandige bose magte ontwapen!

Paulus roep dit oorwinnend uit in Kolossense 2:15:
“Hy het die bose magte ontwapen en hulle in die
openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die
triomftog van Christus mee te voer.”

Daarom kan ons nie meer die skuld vir alles wat
verkeerd loop op die verlede plaas nie.
Navolgers van Christus kan nie meer die verlede
vir hulle tekorte en foute blameer nie. Jesus het ons
verlede nou ingrypend herskryf!
Hy doen dit by die kruis!

Ons het ook nie meer die “reg” om ander vir ons
foute te blameer nie. Ons kan nie meer van onsself
bodemlose putte maak van ander mense wat ons
“skuld” nie. Ons kan nie meer menslike verbruikers
wees wat ander mense opgebruik ter wille van onsself nie.
Ons kan nie meer dink die lewe skuld ons nie.
Ons kan nie meer aanhou om ander mense te verwyt nie.
Dit is nie meer ander se skuld dat ons misluk nie.

Navolgers van Christus is nou nuwe mense. Splinternuut!
Ons is mense wat in Christus meer as genoeg het.
Wat in Hom alles het! Ons is tevrede en dankbaar,
al is almal rondom ons die teendeel.
Ons lewensbekers loop oor. Ons het meer as genoeg.
Ons is nuwe mense!

Ernest