Jesus se dissipels is lewende wierook wat
‘n aangename geur afgee van God se
teenwoordigheid. Wierook het altyd in die
tempel gebrand om mense te herinner aan
God se teenwoordigheid. Dit oorweldig mense
met die goeie geur en bewussyn van God se nabyheid.
Dit verdryf onaangename geure. Ons is soos wierook
as ons dankbare getuies is van God se genade in ons lewe.
Dan gee ons die geur af van God se teenwoordigheid,
en ons trek mense aan na Hom toe.

Dit is nou ‘n reguit vraag: Hoe ruik jy vir ander,
in terme van jou geloofslewe?
2 Korintiërs 2:14-16 skryf hieroor: “Maar aan God die dank!
Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is
met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus
oral soos ‘n aangename geur. Ons is die wierook wat deur
Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik
wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. Vir dié wat
verlore gaan, is dit ‘n doodsreuk wat dood bring;
vir dié wat gered word is dit ‘n lewensgeur wat lewe wek.
En wie is tot sulke dinge in staat?”

Ons is as gelowiges die aangename geur van Christus.
Ons is lewende wierook wat Christus tot eer van God
in die wêreld brand. Lewende bewegende wierook,
oral waar ons leef, tot eer van God.
Ons versprei die geur van God se teenwoordigheid.

Die kennis van Jesus, sê Paulus in vers 14, word soos
‘n aangename geur deur ons woorde en dade
bekendgemaak. Mense kan nie anders as om van ons
teenwoordigheid kennis te neem nie, want ons gee
nie ‘n neutrale geur af nie. Ons gee die geur af van
die teenwoordigheid van die Here, deur ons!
Laat die geur van Christus vandag aan jou kleef.
Jy is God se verteenwoordiger!

Ernest