Die koninkryk van God word gekenmerk deur
‘n hemelse vreugde. Wanneer ons kinders van
God word is dit hierdie soort vreugde waarin
ons deel. Dit is dikwels ‘n ander soort vreugde
as wat die wêreld verstaan.

‘n Bekende filosoof, Miguel de Unamuno,
sê een van die grootste foute wat die Christendom
gemaak het, is om geloof met vooruitgang en sukses
te identifiseer. Baie gelowiges dink dan God is die
Een wat moet sorg dat hulle lewens goed uitwerk,
soos hulle dit wil hê. So word baie getuienisse van
gelowiges dan ook dikwels eintlik net persoonlike
suksesverhale.

Ons moet onthou dat Jesus nooit kitsoplossings vir
die lewe beloof het nie. Hy het ook nie antwoorde op
alles beloof nie. Ook nie deurbrake en suksesvolle
loopbane vir almal wat Hom volg nie. Jesus dui baie
duidelik aan dat sy pad een van kruisdra is. En die wat
Hom volg moet ook die kruis opneem. Sy deurlopende
belofte is egter dat vreugde wag op die wat Hom volg.

Vreugde! Andersoortige vreugde as wat die wêreld
dikwels soek en najaag. Die lewe is nie deurlopende
aardse maanskyn en rose as ons die Here volg nie.
Maar daar is deurlopende hemelse vreugde wat diep
gewortel is in die teenwoordigheid van die Here,
die Here wat lewe is! Die Here self se teenwoordigheid
by ons maak die lewe leefbaar ten spyte van wat ook al.
Andersoortige vreugde is deel van ons as gelowiges se lewe.
Anders as wat dikwels in die wêreld geld.

Gelowiges juig as een mens die Here vind, of as een verlore
skaap terugkom. Lukas 15:10: “Ek sê vir julle: Net so is daar
blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat
hom bekeer.” Ons juig in vreugde saam met engele voor God
se troon oor elke mens wat gered word. Ons sit saam met die
Vader aan by die fees van elke verlore seun wat huis toe kom.
Dit is andersoortige vreugde as wêreldse vreugde.

Meer as die wêreld deel ons vreugde oor die lag van ‘n kind.
Of die blomme van lente. Die son van somer en die kleure
van herfs. Die snoesigheid of ysigheid van winter. Want ons
weet van Wie af dit kom. Jesus se volgelinge is mense wat
feesvier ten spyte van die hardheid wat saam met die lewe loop.
Daarom juig ons oor hulle wat uit die vuur geruk word.
Ons bid en is dankbaar oor elke gebed wat opgaan na ons Vader.
Ons het vreugde oor elkeen wat die lewende God beleef.
Andersoortige vreugde wat die wêreld nie kan steel nie...

Ernest