Ons beleef gereeld hoe dinge in onbruik verval
in ons moderne lewe. Die wêreld verander teen
‘n geweldige tempo. Nuwe kennis hersirkuleer
binne elke twee tot drie jaar! Ja, hersirkuleer!
Motors, selfone, rekenaars, en wat nog alles,
noem maar op, en dit het ‘n kort leeftyd.
Baie dinge word gemaak om net ‘n kort tydperk
te hou. Skaars is die nuwe model op die mark,
of die opvolger daarvan is in plek. Niks het meer
‘n lang rakleeftyd nie.

Ons leef in ‘n verbruiker-aangedrewe samelewing.
Mense wil deurlopend nuwe dinge sien en besit.
Die bemarking van produkte sê ook jy kan nie
daarsonder lewe nie! Jy moét dit hê!
Dit laat ons dink aan 1 Johannes 2:15:
“Moenie die sondige wêreld en die dinge van
die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet,
is die Vader se liefde nie in hom nie.”
Ons leefwyse bring mee dat verveeldheid gou intree
en deel word van ons menswees. Ons moet gedurig
vermaak word. Ons moet gedurig nuwe dinge hê.

Ongelukkig het dit nou ook in die kerk ingesluip.
Ons dra dit daar in. Ons behoeftes moet daar bevredig
word. Ons gaan ter wille van onsself, en nie ter wille
van die prysgee van onsself aan die Here nie. So word
ook die kerk nou die teiken van verbruikers wat heeltyd
na nuwe ervarings en vermaak soek. Dit moet net
“lekker wees”. Mense wil bedien word in plaas van
om te dien. So beland geestelike leiers ook in die
wedloop van vermaak en “people pleasing”.

Gemeentes en geestelike leiers se grootste vrees word
ongewildheid in die oë van verbruikers. Baie word gedoen
om gewild te wees. Gemeentes kompeteer met mekaar
en verloor uitsig op die koninkryk van God. Honderde kerke
ontstaan wat net skape tussen die krale rondskuif,
en nuwe skape en verlore skape raak vergete.

Die evangelie van Jesus Christus is nie ‘n instrument
van vermaak nie. Geloof in Jesus Christus is verseker nie
passiewe vermaak en selfgerigtheid nie. Ons kan nie
toeskouers wees wat elke Sondag vermaak word nie.
Die navolging van Christus vind veral buite die kerkmure plaas.
Wat gebeur dáár? Watter gehoorsaamheid aan die wil van God
vind dáár plaas? Hoe relevant is ons geloof in praktyk?
Watter impak maak ons op die markplein?
Is ons dáár enduit in diens van die Here?
Ons elkeen se lewe is die antwoord op hierdie vrae...

Ernest