Mense raak gou verveeld. Veral in ons digitale era.
Die digitale generasie van ons dag se aandagspan
het ingrypend geskuif. Studies wys dat al die flitsende
beelde op sosiale media soos Facebook, Twitter,
en op rekenaars by baie mense tot verdeelde aandag lei.
Dit het ’n korter konsentrasie-span tot gevolg.
Dit bring ook mee dat mense baie vinniger verveeld raak
met die lewe. Hulle moet voortdurend besig gehou word
met wisselende beelde en nuwe stimuli.
Eenrigting kommunikasie boei hulle nie meer nie.
En dit is wat dikwels in kerke gebeur.

Hierdie verveeldheid was egter al in die antieke tyd ook
sigbaar by mense wat heeltyd oor iets nuut wou redeneer.
Paulus beleef dit in Athene wanneer hy die evangelie
daarheen neem. Ons lees in Handelinge 16 van sy sendingreis
saam met Timoteus en Silas. Wanneer hulle in Athene aankom
is hulle in die kultuur en filosofie stad van die antieke wêreld.
Sover Paulus gaan maak hy die evangelie bekend. In Athene
trek dit dadelik die aandag van die klomp verveelde filosowe
en denkers. Hier hoor hulle nou van ‘n nuwe filosofie of
godsdiens! Daarom laat hulle Paulus op die Areopagus praat.
Die plek waar hulle filosofeer en redeneer. En dink.
Hier is nou nog iets nuuts om oor te redeneer, te gesels, te stry.
So dink hulle.

Baie mense dink vandag ook nog so. Hulle sal ure oor godsdiens
en leerstukke stry en daarin van verveeldheid probeer ontslae raak.
Ure redeneer sonder om die praktyk van die boodskap uit te leef.
Paulus gebruik sy geleentheid om te praat oor Jesus Christus en
sy opstanding en nuwe lewe deur Hom! Hy is nie in die filosofeer
of redeneer beweging nie.
Hy praat oor die praktyk van ‘n nuwe lewe! Hy gee nie om dat die
verveeldes hom uitlag nie. Handelinge 17:18: “Party het gesê:
“Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wou sê?” Ander het gesê:
“Dit lyk of hy ‘n boodskapper van vreemde gode is.” Dit was omdat
Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het.”

Dit gaan nie vir Paulus oor aanvaarding of gewildheid nie.
Dit gaan oor die uitbreiding van God se koninkryk en die Here se eer.
Daarom swik hy nie voor die druk en grootheidswaan van die skares
in Athene nie. Vir die verveelde selfgerigtes wat net vermaak wil
word sal die evangelie moontlik lagwekkend bly.
Maar vir die soekendes na ware lewe sal dit bekering beteken.
Dit is die kerk se roeping. Ons as gelowiges se roeping.
Nie om gewild te wees nie. Maar om met integriteit die evangelie
te verkondig en te leef.
Doen dit!

Ernest