Ons wêreld is vermaak gedrewe.
Ons is ook behoefte gedrewe. Verveeldheid,
eersug, selfgesentreerdheid, en onmiddellike
behoeftebevrediging is kenmerke van die wêreld
waarin ons leef.
Die evangelie gaan dikwels teen die grein van
hierdie waardes in. Vir Jesus gaan dit oor selfopoffering.
Dit gaan oor naastediens, en nie oor jouself nie.
Dit gaan oor die verheerliking van God. Die wêreld waarin
ons leef mag nooit maak dat ons die evangelie afwater
om te vermaak, of mense se selfgesentreerde behoeftes te
bevredig nie. Die evangelie is so aktueel as kan kom,
vir elke konteks wat daar mag wees. Ons moet leer om in
dieselfde asem aktueel te wees én getrou te wees aan
die evangelie. God-getrou.
Handelinge 17:30 sê: “God het die tye van onkunde oorgesien,
maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer.”
Aktueel beteken nie aggressief of afbrekend nie. In ons
post-Christelike wêreld, waar die kerk verdring word in die
samelewing, help dit nie om mense af te dreig met die hel nie.
Dit help nie om met mense te baklei of hulle te verkleineer nie.
Dit beweeg nie mense tot bekering nie. Wanneer Paulus met
die Atheners praat op die Areopagus, vertel hy rustig en
beredeneerd vir hulle van die ware God. Paulus vertel van God
se skeppingswerk, met die mens as hoogtepunt, en hoe God by
hulle betrokke is en vir hulle omgee, al weet hulle dit nie eers nie!
Paulus sluit by hulle leefwêreld aan – Handelinge 17:24-28.
Daarna kom Paulus met sy oproep tot bekering in vers 30.
Volgens vers 34 het ‘n klomp mense Paulus uitgelag.
Selfs al is ons aktueel en tree ons met die liefde van die Here op,
is daar nog steeds mense wat die evangelie aflag. Moenie dat dit
jou ontmoedig nie. Ons saai die saad. Daarna is die keuse
die hoorders sin. En ook die verantwoordelikheid. Vers 34 sê:
“’n Paar mense het gelowig geword en by hom aangesluit.”
Vir húlle was Paulus se boodskap aardskuddend.
Ons moet die evangelie met integriteit lewe, en deel,
sonder om die boodskap daarvan af te water om
“aanvaar te word”. Paulus doen dit, al weet hy die mense
dink dit is dwaasheid en onsin – 1 Kor. 1.
Ons moet nie die goedkeuring van mense probeer kry,
wat in elk geval niks van God af wil weet nie.
Maak impak in Jesus se Naam! Aktueel, en God-getrou!
Ernest