God kies om veral ook deur gebed te werk.
Wanneer ons bid word ons deel van wat God
doen en wil doen! Daarom is gebed so belangrik.
Paulus begin sy brief aan die Tessalonisense met
die belang van gebed en dat hulle vir die gemeente bid.
Die Boodskap sê in 1 Tessalonisense 1:1-2:
“Julle ken God as Vader en julle glo in die Here Jesus
Christus. Mag julle elke dag God se goedheid beleef.
En mag julle ook sy vrede in julle lewe ervaar.
Weet julle hoe lekker dit is om vir julle te bid.”
Glo ons regtig dat God kragtig deur gebed werk?
Wys ons gebedslewe dit? Ons hoef nie eers mense
of hulle name te ken om vir hulle te bid nie. Paulus ken
nie die name van die mense in die gemeente van
Tessalonika nie. Maar hy bid vir hulle.
En kyk hoe opgewonde bid hy vir hulle.
“Elke keer wanneer ek met God oor julle elkeen praat,
is daar net een woord op my lippe: Dankie!”
Paulus is opgewonde oor hierdie mense se lewe
vir die Here! Kyk wat sê hy in gebed vir God:
“Ek vertel oor en oor vir God ons Vader hoe julle
julle geloof uitleef in alles wat julle doen.
Julle liefde vir ander mense vra baie groot opofferings
van julle. En julle hou ook onverskrokke vas aan ons
Here Jesus Christus se beloftes dat hy terugkom.”
Ons raak opgewonde bymekaar betrokke wanneer
ons vir mekaar bid en saam die Here dien.
Raak ons so opgewonde oor mekaar en oor mekaar se
lewe vir die Here? Praat ons ook opgewonde “oor en oor”
met God, oor mekaar? Kom ons bid opgewonde tot God
vir mekaar. En kom ons sê saam met Paulus:
“Weet julle hoe lekker is dit om vir julle te bid.”
Ernest