Dikwels het ons meer vrae as antwoorde.
Soos: Wat maak ek nou eintlik hier?
Wat is my doel en my roeping?
Veral in tye wat dit nie so goed gaan nie het ons
nog meer vrae. Tye wanneer dinge nie wil uitwerk
soos ons beplan of gehoop het nie.
Die belangrike om te onthou is hoe groot God oor ons dink.
Hy het ons elkeen met ‘n doel en ‘n rede geskep.
Hy het ons elkeen “met die hand uitgekies”.
Kyk net wat sê Paulus in 1 Tess. 1:4: “My broers en susters,
julle doen al die wonderlike dinge omdat God julle baie liefhet.
Hy het julle uitgekies om sy kinders te wees.”
Die een Engelse vertaling sê dit so: “It is clear to us, friends,
that God not only loves you very much but also has put his
hand on you for something special.”
Ontdek dit nou weer vandag, bevestigend, nuut!
God het jou oneindig lief! Jy is uitgekies en spesiaal vir Hom.
Of jy so voel of nie, bepaal nie hierdie Bybelse feit nie.
Of jy groot foute gemaak het, of nie, bepaal dit ook nie.
Die omstandighede waarin jy mag vasval kan nooit hierdie
feit wegneem nie. God het jou uitgekies. Hy het jou geskep.
Jy is vir Hom spesiaal. Hy het jou lief!
Selfs sonde kan nie God se liefde vir jou kom steel nie.
Ten spyte van ons sonde, bly God vir ons lief.
So spesiaal is God se liefde. Onverdiend.
Ons staan eenvoudig verbaas om te ontdek dat God se liefde
niks minder vir ons geraak het nie, ten spyte van die kere dat
ons gedwaal het. Juis daarom kan ons vrymoedig na Hom toe
gaan met sonde-belydenis en sy eerste liefde vir ons omhels!
Ernest