Is dit moontlik om in alle omstandighede bly te wees?
Paulus sê van die Christene in Tessalonika in 1 Tess. 1:6:
“Ek weet dit was glad nie vir julle maklik om Christene
te word nie. Onder baie moeilike omstandighede het julle
begin glo. Tog het julle die goeie nuus met groot blydskap
aanvaar. Dit is net die Heilige Gees wat sulke blydskap in
‘n mens se lewe kan bring.” Net die Heilige Gees!
Wanneer jy ‘n keuse maak vir die Here,
trek die Heilige Gees in jou lewe in, kom woon in jou
as sy tempel. Dan is daar ‘n groot verandering in jou lewe,
waarvan blydskap seker die opmerklikste is.
Omstandighede bepaal dan nie jou blydskap in die Here nie.
Die Heilige Gees wat in jou woon bepaal dit.
Wanneer die Gees jou beheer, bring Hy hierdie blydskap in jou.
Ten spyte van. Dit is nie ‘n aangeplakte blydskap nie.
Ook nie ‘n masker blydskap nie. Dit is blydskap wat diep lê,
ten spyte van meer oppervlakkige lewensomstandighede
wat jou vreugde in die Here wil steel.
Daar is gedurig dinge wat jou blydskap wil steel. Ook mense.
Ons loop nie altyd oor van lag en vrolikheid nie.
Maar diepgewortelde blydskap, is van die Heilige Gees.
Daarom is vreugde ook deel van die vrug van die Gees.
God se beloftes, God se guns, is altyd by my.
Hy gee dit in sy Woord. Ons kan Hom op sy woord neem
daarvoor. Hy sal ons nooit alleen laat nie. Geen haar sal van
ons kop val sonder dat Hy daarvan weet nie. Hy sal alles
ten goede vir ons laat meewerk. Hy sal sy seëninge nie van
ons weerhou nie. Sy guns is altyd oor ons.
Hoekom ervaar ons dan nie altyd blydskap nie?
Die rede is dat ons op die verkeerde goed fokus.
Ons fokus op die omstandighede om ons.
Ons fokus nie op God se guns, God se beloftes, en God se
teenwoordigheid nie. Ons moet op God se guns en sy
teenwoordigheid by ons fokus.
Nie op die omstandighede waarin ons ons bevind nie.
Met ons fokus op God, hanteer ons dan ons omstandighede.
Natuurlik is dit nie altyd maklik nie.
Maar ons moet dit doen. Keer op keer. Dit is hoe God in ons
lewe wil werk.
Hy word nie eers ingeroep as die ander planne nie uitwerk nie.
Hy is nie die laaste uitweg nie. Hy is die begin, verloop en einde.
Forseer jou om doelbewus in jou omstandighede op God te
fokus in die hantering daarvan. Blydskap sal uit jou vloei
ten spyte van jou omstandighede.
Dit is nie ‘n blydskap wat jy forseer nie. Dit sal die vrug wees
van die Heilige Gees in jou. Kyk weer: Vers 6 verwys na
groot blydskap ten spyte van baie moeilike omstandighede.
Dit is die werk van die heilige Gees!
Die guns van God skyn heeldag oor ons, soos die son.
Dit is ons wat dikwels skaduwee oor ons omstandighede gooi.
Maar die skaduwee kan nie die son laat ophou skyn nie!
Leef doelbewus in die teenwoordigheid van God wat aan jou
diepgewortelde blydskap gee ten spyte van jou omstandighede.
Hy gee dit deur die Heilige Gees wat in jou woon!
Galasiërs 5:25: “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees
nou ook ons gedrag bepaal.”
Ernest