Gewoonlik sê ons dat ons nie omgee
wat die mense sê nie. Ons doen wat ons wil,
of wat ons oortuig is die regte ding om te doen.
Wanneer ons kinders van die Here is, sal dit
natuurlik vir ons belangrik wees dat die mense
praat oor ons getuienis wat ons uitleef vir die Here.
Dan kan ons nie so maklik sê ons gee nie ‘n duit om
wat ander mense oor ons sê en dink nie.
Dan gaan dit oor ons integriteit en ons getuienis
wat ons as kinders van die Here uitleef.

Kyk wat sê Paulus in 1 Tess. 1:9: “Oral waar ek kom,
praat die mense oor hoe hartlik julle ons ontvang het.
Hulle vertel vir ons dat julle al julle dooie afgode laat
staan het om die lewende en enigste ware God te dien.”
Dit is wat gesê word van die nuwe Christene in Tessalonika.
Ander mense praat oor hulle en vertel stories oor hulle.
Goeie stories! Hier het ‘n merkbare verskil in hulle lewens
plaasgevind. Het jy gehoor? Het jy gesien? Het jy opgemerk
hoe anders die mense van Tessalonika nou is!?
Hulle het soveel vreugde en is so positief oor die lewe.
Mens kan amper nie glo dit is dieselfde mense nie.
Daar moes iets in hulle lewens gebeur het, want ‘n mens
kan nie vanself sommer net so verander nie! Ander mense
vertel nou hulle storie. Hulle het die verandering by hulle
raakgesien. En hierdie verandering in hulle lewe is nou hul
getuienis vir die Here!

Die vraag is of dit ook so van ons is?
In hierdie opsig maak dit regtig saak wat mense van ons sê.
Is dit wat hulle sê eintlik óns getuienis wat nou deur hulle
stories loop. Mooi stories. Getuienis stories.
Sê mense ook van jou dat jy so anders is as wat jy was
voor jy die Here begin dien het? Is jy die een wat mense in
jou omgewing laat groei in menswees?
Is jy die een wat mense inspireer en hulle motiveer?
Of is jy die een wat moeilik is om mee saam te leef?
Het jy integriteit, en tree jy daarmee op?
Die gelowiges in Tessalonika se lewe het handomkeer
verander. Die mense het daarvan gepraat hoe die evangelie
in hulle lewe lewend geword het, en hoe hulle bekers
oorloop daarvan.

Mag ons weer oorrompel word deur die grootheid van God
se verlossingsplan en die realiteit van die lewende en
opgestane Jesus Christus in ons midde. Die Heilige Gees wat
in ons woon! Mag ons weer so vol blydskap raak oor die
evangelie dat al die mense in ons invloedsfeer daardeur
aangeraak word en aangetrek word na God toe.
Mag mense regtig daaroor praat hoe ons met oorgawe vir
die Here leef. Hoe ons bekers oorloop!
Wanneer jy ‘n kind van die Here is maak dit in hierdie opsig
regtig saak wat mense sê. Hulle vertel van jou verhaal,
saam met die Here!

Ernest